Sakeman kry verhoordatum

Verkragtingsaak

Deur Garnett Wicomb
’N SAKEMAN van Oudtshoorn wat tereg staan op aanklagte van verkragting het uiteindelik ’n verhoordatum gekry.

Die man wat in September verlede jaar in die landdroshof borgtog van R10 000 met streng borgvoorwaardes toegestaan is, se naam mag volgens wet nie gepubliseer word voordat hy gepleit het nie.

Van die aanvanklike borgvoorwaardes is later op versoek van die beskuldigde se regsverteen­woordiger, Christo van der Bergh, deur landdros Lorraine Samuels verslap.
’n 32-jarige vrou beweer dat sy tussen November 2014 en April 2016 vier keer deur die 53-jarige verdagte in sy huis op Oudtshoorn verkrag is.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak op 10 April vir pleit en verhoor tot 21 Augustus 2017 uitgestel.