Moordsaak teen De Rust-vrou wag

Deur Garnett Wicomb
’N Vrou (24) van De Rust wat Kersoggend 2016 ’n man met ’n kombuismes doodgesteek het en onskuldig pleit op ’n klagte van moord, sal tot September moet wag om te hoor of sy skuldig is.

Die saak teen Davedine Pietersen is deur streek­landdros Retha Pretorius vir uitspraak tot 14 September uitgestel. Pietersen pleit onskuldig op die klagte, maar wel skuldig op ’n alternatiewe klagte van strafbare manslag omdat sy nie bedoel het om Heinrich (Heini) Sauls (34) dood te maak nie.

Sy erken dat sy baie kwaad was vir die oor­le­de­ne omdat hy glo haar ma uitgeskel en haar ver­ne­der het deur haar op die grond neer te gooi en glo te skop. Die voorval het plaasgevind terwyl die oorledene en haar broer in ’n worsteling betrokke was en sy glo vir haar broer se lewe gevrees het.

Sy het glo na Sauls se arm gemik sodat hy sy greep kon verslap en hom toe in die bors getref.
Die saak is Dinsdag na die getuienis in kamera van die beskuldigde se minderjarige broer vir vonnisverrigtinge uitgestel.