Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen twee mans wat daarvan aangekla word dat hulle Frans Tredoux, ’n 75-jarige winkeleienaar
van Stolsvlakte, aangerand en beroof het, is verlede week in die streekhof op Oudtshoorn as ’n nuwe saak tot volgende jaar uitgestel.
Ronaldo Olkers en Koos van der Ross het op 13 Desember 2017 verskyn nadat ’n bekentenis van Olkers as aanvaarbare bewysstuk toegelaat is.
Olkers het die bekentenis vrywilliglik teenoor kapt Johannes Nel gemaak nadat hy ingelig is dat dit nie nodig was om dit te doen nie.
Die saak het voor wyle streeklanddros Mark van Wyngaardt gedien en is nou as nuwe saak op die hofrol geplaas.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof meegedeel dat ’n nuwe klagstaat reeds voorberei
is en het versoek dat die saak tot volgende jaar uitgestel word om van voor af verhoor te word.
Tredoux is die oggend van 29 Mei vanjaar in sy winkel met ’n knopkierie oor die kop geslaan, met
’n mes gesteek en van R200 kontant beroof.
Hy kon weens verswakte gesondheid nie vroeër in die saak getuig nie.
Olkers en Van der Ross is sedert Mei vanjaar in aanhouding nadat borgtog aan hulle geweier is.
Albei ontken skuld.