
Ramshorings is op ’n koppie geblaas, waarna dié vier blasers uit die kerk geantwoord het. Hulle is Derick Botha (naaslinks) met sy drie seuns, El Racham, Chadash en Benjamin. Foto verskaf
“SELFS die koue en sterk wind kon nie die afgelope Saterdag mense weghou van die gebedsbyeenkoms vir Kannaland nie!”
Aan die woord is Wim Krynauw, koördineerder van It’s Time Kannaland wat Saterdag (10 Junie) in Ladismith gehou is. Die byeenkoms het beslag gekry nadat ’n groot groep Ladismitters het die It’s Time-gebedsbyeenkoms van Angus Buchan in April op Bloemfontein bygewoon het en saamgewerk het om ’n soortgelyke byeenkoms in Kannaland te hou.
Die byeenkoms, wat deur sowat 600 mense van al die gemeentes in die dorp en ook uit omliggende dorpe bygewoon is, moes as gevolg van wind en slegte weer van Towerkop Park na die NG Kerk op die dorp verskuif word.
“As ek moet opsom, wil ek net sê die Here kom werk op nuwe maniere, mense moet uit hulle boksies kom en oor die tradisionele grense heen saamwerk om die herlewing verder te voer. Ons kan gerus weer op hierdie manier bymekaarkom,” het Krynauw gesê.