Skoenboksprojek vir boere in nood

Ramona van Rensburg by bokse wat ’n groep oumotor-geesdriftiges tydens hul onlangse stofdonkietoer na Vosburg ingesamel is. Foto verskaf

MEER as 200 skoenbokse vir boere in nood in droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap, is Saterdag by die Oudtshoorn Spar opgelaai.

Die projek is geïnisieer deur Petra en Skilllie Pretorius, eienaars van die Oudtshoorn Spar, nadat Petra ’n berig oor ’n soortgelyke projek in ’n koe­rantberig gesien het.

“Die nood is so groot, daar is boere wat al vir maande net pap en water eet omdat daar nie geld is vir kos nie,” het Petra aan Die Hoorn gesê.

Baie van die boere gebruik ook reeds kerse omdat hul krag reeds deur Eskom afgesluit is omdat hulle nie meer kan betaal nie.

Inwoners van Oudtshoorn het vir die projek kos in skoenbokse gepak en daarna met koerantpapier toegedraai. Dit sluit nie-bederfbare produkte soos blikkieskos, soppoeier, koffie, suiker en langlewe-melk in asook bederfies soos lekkergoed en in sommige bokse toiletware.

Spar het onderneem om vir elke boks wat van Oudtshoorniete ontvang word, ’n boks van Spar af te skenk.

Uiteindelik is meer as 200 bokse Saterdag na Fraserburg geneem, waarvandaan dit verder versprei sal word.

(Deur Angelique Erasmus)