STREETSMART SA, ’n nie-winsgewende organisasie het onlangs ’n tjek van R15 000 aan Famsa Karoo oorhandig.
Die geld op Oudtshoorn is deur drie toerismeplekke, die Turnberry Hotel, Karusa Wynlandgoed en Thorny Creek Brewery, ingesamel deur gaste te vra vir ’n bydrae van R5 wat by hul rekening gevoeg word.
Dié bydraes word dan aan plaaslike instansies versprei wat met kinders werk wat die gevaar loop om op straat te beland of kinders ondersteun wat reeds op straat is.
“Ons is trots om te kan sê dat elke sent wat ingesamel word, teruggeploeg word in projekte in die dorp waar dit ingesamel word,” het Melanie Burke, voorsitter van Streetsmart SA gesê.
Vanjaar het dié organisasie sowat R1 035 000 landwyd ingesamel vir orga-nisasies wat met kinders in nood werk.
’n Groot gedeelte van die R15 000 wat in Oudtshoorn ingesamel is, kom van die Turnberry Boutique Hotel, met Niel Els wat in beheer is van die hotel ’n ywerige ondersteuner van die projek.
“Ons sal graag meer besighede in Oudtshoorn by hierdie wonderlike orga-nisasie wil betrek, sodat meer geld ingesamel en aan projekte op Oudtshoorn beskikbaar gestel kan word,” sê Burke.
Franzu Badenhorst, hoof van Famsa Karoo, sê die geld sal gaan vir ’n kunsprojek waarby jong seuns voor en tydens die KKNK betrokke gaan wees.
“Die projek behels die maak van poppe en beelde met papierpulp – van mense wat ’n groot aandeel in die KKNK gehad het.”
Die poppe sal tydens volgende jaar se KKNK voltooi word as deel van ’n uitstalling. Badenhorst sê bekendes soos Nic Barrow, Nelson Mandela en selfs moontlik Evita Bezuidenhout sal met papierpulp vasgevang word.
Die projek word in samewerking met die graad 9’s van Hoërskool Oudtshoorn en Laerskool Wesbank se graad 7’s gedoen.
• Els sê hy wil alle toerisme-instellings in en om Oudtshoorn uitdaag om om deel te word van Streetsmart SA, en vir kliënte die geleentheid bied om met R5 op ’n slag fondse in te samel vir ’n goeie doel. (Deur Angelique Erasmus)