Links agter: Lt kol Jakobus Marthinus (Ladismith-bevelvoerder), Phillipus Antonie (onderburgemeester Kannaland), Sanet Rossouw, en sers Henry Moses (sektorbestuurder van Zoar en projekkoördineerder) saam met vroue uit die gemeenskap. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
VEERTIG vroue van die Ladismith-gemeenskap is op Vrouedag bederf met ’n koppie tee, ’n ete en bemoedigende boodskappe.
Die sektorbestuurder van Zoar, sers Henry Moses wat die projek gedryf het, het aan die vroue gesê dat hul die kern van gesinne is.
Ladismith se bevelvoerder, lt kol Jakobus Marthinus, het vroue aangemoedig om ondanks hul uitdagings hoopvol te bly. “Ons moet gelukkige gesinne kweek, waardes bou en die polisielede moet ook by gebroke gesinne betrokke raak,” het hy gesê.
Die onderburgemeester van Kannaland, Phillipus Antonie het gesê vroue moet besef hulle is leiers in eie reg en verwys na ’n aanhaling van Michelle Obama, voormalige VSA-presidentsvrou: “There is no limit to what we, as women, can accomplish.”
Die gasspreker, Sanet Rossouw van Laingsburg, het uit Genesis 1 voorgelees en die tema “Ontdek dat jy ’n mede-erfgenaam van God is” beklemtoon. “Vroue is kosbaar in God se oë, en moet die beeld van Christus weerspieël,” het sy gesê.