

DIE nie-winsgewende organisasie, SA for Hope, het op 7 Mei – na ’n versoek van gemeenskappe in nood – ingespring met ’n uitreik na die gemeenskappe van Rooiheuwel en Kleynspoort in die Klein Karoo.
Volgens Pieter du Plessis, stigterslid van die organisasie, is hierdie gemeenskappe slegs van die areas wat die swaarste getref is deur die voortslepende droogte. “Ons sien net die reën aankom, maar die druppels mis ons, of ons kry bitter min; net genoeg om die veld mooi te maak. Hier is boere wat geen plaaswerkers meer gebruik nie, of wat hulle net laat werk wanneer hulle nie self kan werk nie, so hulle bly nog op die plaas, maar het baie min tot geen inkomste nie,” sê Du Plessis.
Wat dinge nog erger maak, sê hy, is dat daar nog diere is wat ten duurste ook nog gevoer moet word. “Ons kan ons eie lusern produseer teen ongeveer R1 000 per ton, maar weens die tekort aan water moet ons alles inkoop, en lusern kan tot drie keer meer kos om aan te koop. Ons dam, die Kammanasie, raak ook net nie vol nie, so daar word bitter min uit die dam uitgelaat, maar steeds moet die Kammanasie
Bersproeiingsraad elke maand betaal word, al kry ons nie al die water nie,” sê hy.
Volgens Du Plessis speel al hierdie faktore ’n rol daarin dat mense in hierdie omgewings sukkel. “Hier is gesinne wat al hul ekstra voertuig verkoop het, ander is pensionarisse wat ’n huishouding aan die gang probeer hou met ’n karige pensioen. Hier-die mense kort dringend hulp,” voeg hy by.
Du Plessis sê daar was minstens 30 voertuie wat gereed gestaan het om op dié dag broodnodige skenkings uit te deel. “Ons het kruidniersware-pakkies, blikkies sop en kos, mieliemeel, gebottelde water en voer vir die vee, asook lekker bederfboksies vir die boervroue en die plaaswerkers uitgedeel. Siende dat die volgende dag Moedersdag was (Sondag, 8 Mei), wou ons hulle ook spesiaal laat voel het, en seker maak daar is ’n bederfie vir die Sondagete!”
Volgens Du Plessis is hierdie uitreik een van vele wat SA for Hope aanpak. “Om ’n goeie impak te maak benodig ons nog redelik fondse. Ons kort vars vrugte en groente asook nog voer,” sê hy. (Deur Stefan Skapie Goosen)