Suksesvolste Prince Albert Leesfees

Sharunay Karolus van die Hoërskool Zwartberg het die eerste prys in die kategorie digkuns (onder 18) gewen in die kompetisie vir skeppende skryfwerk. Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het haar prys oorhandig.

Sharunay Karolus van die Hoërskool Zwartberg het die eerste prys in die kategorie digkuns (onder 18) gewen in die kompetisie vir skeppende skryfwerk. Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het haar prys oorhandig.

 

Hein Crocker het namens die Oudtshoorniete Staan Saam Assosiasie R16 000 aan Piet Cordier oorhandig.

Hein Crocker het namens die Oudtshoorniete Staan Saam Assosiasie R16 000 aan Piet Cordier oorhandig.

Die oud-staatsaanklaer Glynnis Brey­tenbach.          Foto’s:  Barry Lamprecht 

Die oud-staatsaanklaer Glynnis Brey­tenbach. Foto’s: Barry Lamprecht

Deur Marlene Malan
Ondanks ’n grootskaalse kragonderbreking wat die hele dorp getref het, word die sesde Prince Albert Leesfees verlede naweek as die suksesvolste ooit beskryf.

Statistiek vir kaartjieverkope vertel dieselfde verhaal. Terwyl die Jans Rautenbach Schouwburg gemaklik ’n gehoor van 100 kan dra, was die geesdrif vir die aanbieding deur die oud-staatsaanklaer Glynnis Breytenbach oor haar boek Rule of Law, die gewildste – altesame 113 mense het dit bygewoon, met die laagste bywoningsyfer vir ’n aanbieding 22 mense. Maar selfs dié syfer oortref die bywoning van baie boekgesprekke by ander groot kunstefeeste in die land, het gereelde literêre feesgangers aan Die Hoorn gesê.

Sowat 61% van die Leesfees-kaartjies is aan Prins Alberters verkoop, met 38% van die fees­gangers wat van elders gekom het. Volgens Ellen Joubert wat die statistiek bygehou en die Leesfees se webblad en aanlynverkopestelsel ontwerp het, “is die fees goed ondersteun.” Sy het nét die kaartjie­verkope vir gesprekke en aanbie­dings by die Jans Rautenbach Schouwburg ontleed. Marelize Vorster, be­stuurder van The Showroom, se ont­ledings toon dat 143 kaartjies vir Fortyfied met Nik Rabinowitz verkoop is, en 119 vir Afrika my verlange met Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert en vier Wes-Afrikaanse sangers.

Die dokumentêr Eerstewater wat deur die Prins Alberter Hélène Smit en The Open Window Film Institute van Centurion vervaardig is, is Donder­dag­aand in The Showroom voor ’n stampvol saal vertoon; ten bate van Piet Cordier, ’n inwoner van die dorp. Piet, wat sy oë as baba weens siekte en sy bene as tiener weens ’n treinongeluk verloor het, is een van die “karakters” in die film wat sy lewensverhaal vertel en oor sy lewens­uitkyk praat. Hy het onlangs sy kafee, Lekkerbek, verloor weens finansiële druk, en hoop om weer ’n eie onderneming op die been te bring. Die Oudtshoorniete Staan Saam Assosiasie, onder leiding van Deon Bosman, het R16 000 vir Cordier ingesamel. Die kaartjie-inkomste van sowat R6 000 is ook aan Cordier geskenk. Cordier het tydens sy bedanking aan Smit en Bosman gesê die gebaar gee hom hoop. “Ek wil nie aandag op myself vestig nie. Die film én die aand dra ek op aan my vriende in Noordeinde.” Noordeinde is die bruin woongebied van Prins Albert.

Nicol Stassen, uitvoerende hoof van die uitgewer Protea Boekhuis, het aan Die Hoorn gesê as daar na literêre aanbie­dings van die onderskeie kunstefeeste in die land gekyk word, kan die Prince Albert Leesfees as een van die top-geleent­hede be­skou word wat programinhoud en bywoning betref. Dis ’n pluspunt dat geen­een van die aanbiedings gelyklopend is nie, en dat 90% daarvan op een plek plaasvind.

Die Leesfees het egter ook groot druk ervaar toe swaar reën en donderweer Donderdagaand omtrent die hele dorp se elektrisiteitsaanleg lam­gelê het. Die aanbiedings by die Schouwburg kon voortgaan met behulp van kragopwekkers wat inderhaas gehuur is.

Volgens die Leesfeeskomitee begin samesprekings binnekort om Leesfees 2018 te begin beplan.