Nuwe fietsroete deur die Wes-Kaap kronkel ook deur Oudtshoorn en die Klein Karoo

Cape-Cross-1

OUDTSHOORN is een van die dorpe op die nuwe Cross Cape-fietsroete wat op 12 Mei in gebruik geneem word en deur ’n groot deel van die Wes-Kaap kronkel.

Die fietsroete strek van Plettenbergbaai tot Stellenbosch en is 742 km lank. Dit wil plaaslike en internasionale fietsryers lok om per fiets van die mooiste dele van die Tuinroete, die Klein Karoo, die Overberg en die Wynlande te verken.

Daar word verwag dat dié nuwe roete toerisme en die ekonomie ’n hupstoot kan gee en dat dorpe langs die roete daarby sal kan baat. Die Cross Cape-roete loop van Plettenbergaai via onder meer Knysna, George, Oudtshoorn, oor die Rooiberg na Swellendam en Greyton tot in Stellenbosch. Die foetsroete is ’n inisiatief van die Wes-Kaapse regering om fietsry-toerisme te stimuleer.

Die Wes-Kaapse minister van Ekonomiese Geleenthede, Alan Winde, gaan aan die eerste wedren tussen 12 Mei en 18 Mei deelneem. Hy het inwoners van al die omliggende dorpe genooi om te kom saamry wanneer dié eerste fietstoer deur hul dorpe gaan.

“Individuele ryers kan die fietsroete ry, geleentheidorganiseerders kan fietsritte en -kompetisies op die roete reël en plaaslike entrepreneurs kan ook die roete in hul toerismepakkette gebruik. Daar is geen koste aan die gebruik van die roete nie en dit is die hele jaar oop,” sê Winde. (Berig deur Liesel le Roux)