DIE 27ste Richard Griessen Repairs Klein Karoo Kampioenskappe op die RedRock Raceway-ovaalbaan op Oudtshoorn het die naweek gesorg vir witwarm aksie, al was Oudtshoorn yskoud.
’n Allemintige 186 karre het in verskeie klasse deelgeneem en die reuk van petrol, metanol, bande, brieke en selfs braaivleisvure was volop in die lug.
Die opwinding tussen die sowat 2 600 toeskouers wat hul gunstelingbestuurders kom aanmoedig het, was groot.
Daar is ook meer as 830 aanlyn kaartjies verkoop vir die lewendige uitsending van die ren, vir dié wat nie die koue wou aandurf nie.
Die getal deelnemers en getal aanlyn kaartjies was beide ’n rekord vir die Klein Karoo Kampioenskappe.
Die volgende ren op die RedRock Raceway-ovaalbaan op Oudtshoorn is die SA Kampioenskappe wat op 23 September 2023 plaasvind.








