Nic en Ferda Barrow se Le Lude Wynkelder op Franschhoek is besig om oral naam te maak.
Die Le Lude Extra Brut het by die onlangse Decanter-wynkompetisie in Londen ’n puntetotaal van 94 uit 100 gekry. Dit is die hoogste van al die Suid-Afrikaanse MCC’s (MCC: Methode Cap Classique).
Le Lude is ook die eerste MCC-kelder wat deur die organiseerders van die Nederburg Wynveiling genooi is om drie van hulle produkte op die veiling op 8 September beskikbaar te stel.
Hierdie is ’n groot eer vir ’n wynkelder wat nog nie 10 jaar bestaan nie!
• Le Lude bied tydens die Cap Classique en Champagne-fees (1 en 2 Desember) op Franschhoek twee spesiale geleenthede aan. Die Vrydagaand (30 November word ’n baie spesiale black tie-geleentheid in die wynkelder gehou waar vyf van die beste champagnes vergelyk gaan word met Le Lude se 2012 Vintage Collection.
Die vyf champagnes is die Champagne Doyard (Vertus), Champagne Geoffroy (Ay), Champagne Egly-Ouriet (Ambonnay), Champagne Agrapart (Avize) en Champagne Andre Jacquart (Vertus).
Die versameling van Le Lude sal bestaan uit die Vintage Cuvee 2012, Vintage Cuvee Magnum 2012, Brut Agrafe 2012 en Brut Magnum 2012.
’n Ete voorberei deur Nicolene Barrow sal daarna bedien word. Slegs 50 kaartjies teen R2 300 per persoon sal beskikbaar wees.
Die Sondagoggend (2 Desember) om 11:00 bied Le Lude ’n klassieke musiekuitvoering aan in die NG Kerk Franschhoek deur die bekende pianiste Nina Schumann en Luis Magalhães. Hulle sal werke van Mendelsohn en Beethoven uitvoer. Kaartjies sal te koop wees by Webticket teen R150 elk. Aangesien Le Lude die musiekuitvoering borg, sal die volle opbrengs van die kaartjies geskenk word aan welsynorganisasies in Franschhoek.
• Le Lude is ’n korporatiewe borg van die Kaapse Filharmoniese Orkes.