Deur Liesel le Roux
INWONERS van Oudtshoorn, De Rust, Dysselsdorp en omringende plase sal volgende Dinsdag (22 Mei) met kerslig moet opstaan of andersins moet wag vir die son om lig te maak.
Die gebied se kragtoevoer word Dinsdag bykans die hele dag lank afgeskakel vir noodsaaklike onderhoudswerk deur Eskom.
Volgens ’n kennisgewing wat deur Eskom aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur is, sal die kragtoevoer om 06:00 deur Eskom af- en weer om 18:00 aangeskakel word. Eskom waarsku dat alle elektriese punte gedurende hierdie ure as lewendig hanteer moet word.
Dié kragonderbreking op ’n weeksdag sal ’n besliste uitwerking op die sakesentrum van Oudtshoorn hê met talle besighede se kernfunksies wat daardeur geraak sal word.
Indien weersomstandighede soos reën dit vir Eskom onmoontlik maak om die onderhoudswerk Dinsdag te doen, sal dit volgens die kennisgewing op Woensdag, 30 Mei, gedoen word.