Showroom vier 7de verjaardag!

Prins Albert se moderne 140-sitplek-teater, The Showroom Theatre, vier binnekort sy sewende verjaardag met twee rooitapytgeleenthede: Die optrede van die sangeres PJ Powers Saterdagaand (28 November) en ’n fliekfees in Desember om die bekende filmmaker Koos Roets van Klaarstroom vir sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse filmbedryf te vereer.

Charon Landman, eienaar van The Showroom, sê die feesvieringe vereer terselfdertyd sy lojale ondersteuners oor die jare. “Vanjaar was ’n besonder moeilike jaar vir die kunste en uitvoerende kunstenaars. PJ is een van my gunstelingsangers en Koos is ’n ikoon in ons omgewing. Dis niks minder nie as gepas om die uithouvermoë van The Showroom oor die afgelope jare, en veral in die Covid-19-isolasietyd, op hierdie wyse te vier.”

Powers, wat Saterdagaand op die verhoog deur Tigger Reunert (kitaar en vokaal) bygestaan word, noem haar vertoning Just Breathe. Dit sluit immergroen, gewilde liedjies in uit haar loopbaan van langer as dertig jaar, sowel as onlangse treffers. Teatergangers sal met ’n komplimentêre glasie vonkelwyn welkom geheet word.

Die teater brei sy feesvieringe verder uit deur ’n naweek-fliekfees van 18 tot 20 Desember om Roets te bedank vir sy bydrae as filmmaker, regisseur, kinematograaf en draaiboekskrywer.

Hy open die betrokke Vrydagaand die naweek-verrigting met ’n gesprek oor sy lewenswerk, waarna ’n dokumentêr oor sy lewe – vervaardig deur Simon Barnard, seun van filmmaker Katinka Heyns en skrywer Chris Barnard – vertoon word. Heyns gaan ook die filmfees bywoon.

Roets was as regisseur of as kinematograaf of as draaiboekskrywer betrokke by die films wat tydens die drie dae vertoon gaan word. Dit is Faan se trein (2013), Abraham (2013), Die hoener met die rooi skoene (2017), Die wonder-werker (2012), Nag van die negentiende (1992), Die storie van Klara Viljee (1992), Paljas (1988), Kootjie Emmer (1977), Die sersant en die Tiger Moth (1974), Vlug van die Seemeeu (1972) en Die erfgenaam (1971).

Tydens sy loopbaan, wat in 1962 afgeskop het as assistent-kameraman vir Jamie Uys se Lord oom Piet, was Roets regisseur van minstens twintig rolprente en kinematograaf van tien. Maar in dié loopbaan van byna sestig jaar was Roets in verskillende hoedanighede betrokke by altesame 150 produksies. Hy is al 35 keer vir pryse benoem, waarvan hy 33 keer as wenner bekroon is. Roets het aan Die Hoorn gesê hy beplan splinternuwe projekte vir die nuwe jaar.

Die naweek op Prins Albert gaan sommer ook dien om sy 78ste verjaardag op 7 Januarie volgende jaar te vier. Feesgangers kan enkelvertonings bywoon, of ’n dag- of naweekpas koop.