Prins Albert-nuus
Prins Albert bied einde April ’n nuwe fees, die PlaasKombuisfees, aan wat beloof om ’n gesins- en kuierbyeenkoms soos min te wees!
Dié driedag-saamtrek van inwo-ners en gaste van elders vind plaas van Vrydag tot Sondag, 27 tot 29 April, op die terrein van die NG Kerk in die hoofstraat, “en bied iets vir almal,” sê die organiseerders, Adele Hattingh en Madri Rossouw. Die fees word deur dié kerk se gemeente gereël in die plek van die jaarlikse kerkbasaar.
Dis wat alles gebied word:
• Stalletjies met lekkernye, snuisterye, boeke en mooi goed binne en buite die kerksaal;
• Tafels vol gebak soos melktert, koeksisters, sjokoladekoek en souttert, asook pasteie en varsvleis;
• Heerlike etes soos braaivleis, braaiwors en sosaties, roosterkoek, hoenderburgers, potjiekos, afval en skaapkop, asook wraps, aartappelskyfies, vars slaaie en ontbytrolletjies wat soggens tot 10:00 bedien word;
• ’n Teetuin met tradisionele soet- en soutgebak; ’n biertuin waar gas-kunstenaars musiek gaan maak;
• Optredes deur die plaaslike rieldansgroep Die Prins Albert Vastrappers;
• Orreluitvoerings deur plaaslike en “ingevoerde” orreliste;
• Blomme-uitstallings; en
• Kindervermaak.
Van die topaanbiedings is ’n optrede deur die bekende sanger Jak de Priester (die Saterdagaand om 20:00) in die kerk, en ’n kooruitvoering die Sondagoggend, ook in die kerk.
Die PlaasKombuisfees word afge-sluit met ’n driegangete Sondagmiddag by die Windpomp-restaurant by die skoutterrein, waar daar ’n kontantkroeg sal wees.
Besprekings vir die volgende is belangrik:
• Jak de Priester: Kaartjies – R100 (galery) en R120 (onder);
• Skaapkopete: R100 per ete; en
• Stalletjies: Binnesaal (R450 sonder elektrisiteit, R500 met elektri-siteit); buitekant (R400 sonder elek- trisiteit, R450 met elektrisiteit).
Kaartjiebesprekings en bespreking van stalletjies kan gedoen word by Adele by 0826398647, asook Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 12:00 by die kerkkantoor – tel0235411510.
Vir enige navrae kontak gerus vir Madri by 0833832591.
Feestoegangsgeld is R10 per persoon.
Die PlaasKombuisfees gaan alles bied van die plaas en uit die kombuis… en nog baie meer!