Bekroondes by 11de Klassique

Die bariton Bongani Kubheka wat vanjaar in die ATKV-virtuose in Konsert, by die Klein Karoo Klassique te sien gaan wees. Foto verskaf

DIE 11de Klein Karoo Klassique-program is pas bekend gemaak en word gekenmerk deur bekroonde uitvoerings en kunstenaars. Die Klein Karoo Klassique word van Donderdag 8 Augustus tot Sondag 11 Augustus op Oudtshoorn aangebied.

“Ons sien uit om die winterkoue op Oudtshoorn met uitmuntende klassieke musiek te verdryf,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk.

Die program sluit vanjaar die eerste keer sedert 2015 ’n Klein Karoo Klassique Galakonsert in!

“Dié Galakonsert is een van nege uit­voerings wat, danksy die volgehoue ondersteuning van die Rupert-Musiek­stig- ting, aangebied word. Die same­stelling van ons gewilde Klassique-pakket maak dit vir feesgangers moontlik om meer as 20% te spaar,” sê Theart.

Klassique se tuiste bly vanjaar die NG Moederkerk-kompleks, waar die meeste uitvoerings en aktiwiteite plaasvind. Die Saterdagaand se Galakonsert sal egter in die Bugersentrum aangebied word.

Die fees skop op 8 Augustus om 18:30 af met La Femme! – A Celebration of Music and Dance – outentieke, kontemporêre Flamenco-dans met die klanke van klassieke kitaar.

Die ander konserte is:
• Trio du Cap Classique (9 Augustus 10:30) met Liesl Stoltz (fluit), David Pinoit (tjello) en François du Toit (klavier) in werke vir fluit, tjello en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, asook ’n beeldskone verwerking van Arnold Schoenberg se Verklärte Nacht (Verheerlikte Nag). Hul eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla – deel van sy Vier Seisoene.

• Plaaslike pianis Sulayman Human, keer op 9 Augustus om 14:30 terug na sy tuisdorp vir When Poets Speak, ’n uitvoe­ring geïnspireer deur van die donkerste, asook van die dapperste poësie – ’n uitvoe­ring moontlik gemaak deur LeLude MCC.

• Die Samro-beurswenner Dylan Tabisher besin in Marimba Melodies (9 Augustus 18:00) oor sy reis as marimba-speler. Hy begin met Keiko Abe se Michi (wat pad of weg in Japannees beteken), gevolg deur werke van sy gunsteling-komponiste, waaronder Bach en Astor Piazzolla.

• Violin Dialogue (10 Augustus 10:30) met Zanta Hofmeyr (viool), Miro Chakaryan (viool) en Olive Sandilands (klavier) is in 2018 met die Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop bekroon. ’n Opwindende program van virtuose vioolduo’s word gehoor.

• Erik Dippenaar (orrel) speel in Transkribarok (10 Augustus 14:30) transkripsies van gewilde orkeswerke uit die Barok-periode. Sy program sluit Handel se Musiek vir die Koninklike Vuurwerke, Watermusiek en Die Aankoms van die Koningin van Skeba.

• Die Klein Karoo Klassique Galakonsert (10 Augustus 19:00) word ter viering van Vrouedag aangebied, met duo’s en trio’s uit operettes, musiekblyspele en opera – vertolk deur Kaapse-sopraan Minette du Toit-Pearce, TV-persoonlikheid en Kunste Onbeperk-vereerde, Lynelle Kenned en Janel Speelman. Verwag ’n onvergeetlike samekoms van stemme. Die jong pianis, Qden Blauw lei die program in.

• Kaapstad se Amici Strykkwartet, een van Suid-Afrika se voorste kamermusiek-ensembles, neem op 11 Augustus om 11:00 gehore op reis deur werke van die voorste strykkwartet-komponiste in die geskiedenis, in Sublime String Quartets from Bohemia.

• Klassique 2019 eindig met die ATKV-virtuose in konsert (11 Augustus 14:30) met Bongani Kubheka (bariton), Cameron Williams (saksofoon) en Megan-Geoffrey Prins (klavier). Dit is ’n kragtoer van klanke in harmonie met twee jong virtuose; Williams, wenner van ATKV-Muziq 2018 en Kubheka, wenner van ATKV-Muziqanto 2018. Hulle neem die gehoor op ’n musikale reis, begelei deur pianis, Megan-Geoffrey Prins, wenner van ATKV-Muziq 2016.

Volgens Theart kan feesgangers uitsien na bykomende konserte, kunsuitstallings, proe-ervarings en smulkos by plaaslike restaurante.

Feesgangers het vanjaar ook ’n eenmalige geleentheid om die 2018 Platter Wyn van die Jaar, Nederburg se Two Centuries Cabernet Sauvignon 2014, asook vyf ander kultivars in dié reeks tydens Klassique te proe. ’n 1985 Nederburg Cabernet Sauvignon rond die ervaring af. Dié eksklusiewe Nederburg Two Centuries Wine Tasting word op 10 Augustus om 16:00 aangebied met slegs ’n beperkte aantal sitplekke beskikbaar.

Die volledige feesprogram is eersdaags beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan binnekort by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk by 044 203 8600 of info@kunste.org.za