
Die Vollie-uitstalling in die Rembrandtsaal van die CP Nel Museum.
DIE Vollie-uitstalling in die CP Nel Museum op Oudtshoorn is nou voltooi en word amptelik op Saterdag, 18 Februarie, geopen.
“Ons nooi alle oud-studente, die Vollies van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK), uit om die geskiedkundige geleentheid by te woon,” het die projekkoördineerder, Farouk Wicomb, die week gesê.
Volgens Wicomb sou die projek nie moontlik gewees het as dit nie was vir die goeie ondersteuning en bydraes van oud-studente nie.
“Ons is groot dank aan almal verskuldig en trots op die uiteindelike produk.”
Verblyf vir die openingsnaweek is beskikbaar by die hostel van die Bridgton Senior Sekondêre Skool teen R170 per persoon.
Dit sluit ’n ontbyt die Sondagoggend in.
Diegene wat van die verblyf gebruik wil maak, word versoek om vir David Piedt op Oudtshoorn by 044 272 2323 of 083 4123 160 te skakel. Ook Vollies wat net die opening wil bywoon, word gevra om Piedt te skakel sodat voorsiening gemaak kan word vir voldoende sitplek en verversings.
Die sperdatum is 31 Januarie 2017.
“In ons nederige poging het ons met die projek daarna gestreef om ons kollege wat so ’n betekenisvolle rol in ons lewens en gemeenskappe landwyd gespeel het, reg bo in ’n ewige gesogte posisie te plaas,” sê Wicomb.
Die uitstalling in vier glaskaste met groot foto’s van die kollege se verskillende sakwapens daarop en twee swaaiboeke met tientalle kollegefoto’s is in die Rembrandtsaal van die museum.
Volgens Wicomb is die Vollie-boek oor die geskiedenis van die kollege, ook nou voltooi en sal dit teen R120 stuk beskikbaar wees op 18 Februarie.
Oud-studente wat vir advertensies in die boek betaal het, sal ook hul boeke by die museum kan afhaal.
Wicomb het beklemtoon dat indien meer eksemplare na die amptelike opening gedruk moet word, dit duurder as R120 sal kos.
Wicomb se kontakbesonderhede is die volgende: tel 041 991 0909; sel 072 606 2976; en e-pos: farwic2@gmail. com