
Twee Oudtshoornse krieketondersteuners, Lleyton Avontuur en DeJean Oberholzer, het vroeg reeds hul Kersgeskenk ontvang nadat hulle elk ’n skitterende eenhandige vangskoot in die pawiljoen uitgevoer het.
Die twee is deel van die toeskouers wat nou ’n aandeel het in die reuse-R3 miljoen-prysgeld van die eerste YES PLAY PRO20-beker se eenhandige vangkompetisie.
Avontuur, wat self vir die Garden Route Badgers se Colts-span krieket speel, was die eerste om die geleentheid aan te gryp.
Hy het sy vangskoot tydens Donderdag se geskiedkundige oorwinning van die Badgers oor die Multiply Titans, een van Suid-Afrika se voorste krieketspanne, uitgevoer.
Oberholzer het op sy beurt sy eenhandige vangs tydens die kolfbeurt van die Garden Route Badgers in hul oorwinning oor WSB Eastern Storm by die Recreation Ground-krieketstadion in Oudtshoorn behaal. Interessant genoeg was dit in albei gevalle dieselfde kolwer, Modise Maloka, die Badgers se kragtige topordekolwer, wat die ses geslaan het wat die twee ondersteuners se vangs moontlik gemaak het.
Daar is tans elf toeskouers landwyd wat daarin geslaag het om die uitdaging te voltooi en hulself sodoende in die wedloop om die boerpot te plaas.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van die Garden Route Badgers, het gesê die kompetisie het beslis bygedra tot die goeie bywoning tydens wedstryde.
“Die geleentheid om in die prysgeld te deel, het ’n positiewe uitwerking op die goeie skares gehad wat ons krieket ondersteun. Dit is ook die hoogtepunt van ’n paar uitstaande vertonings deur die Garden Route Badgers, wat die ondersteuning van die publiek vir ons tuiswedstryde gelok het,” het Kennedy gesê.
Vir Avontuur en Oberholzer was dit beslis ’n wedstryd om te onthou, met die moontlikheid van ’n deel in die reuse prysgeld as ekstra beloning!
Lees ook:
Garden Route Badgers beleef droomweek met twee reuse-oorwinnings in Super 8
Briewe van lesers: Trotse Garden Route Badgers-ondersteuner vra plaaslike steun vir tuiswedstryde
Be the first to comment on "Twee Oudtshoornse krieketondersteuners deel in R3 miljoen se eenhandige vangbonus"