OGKK Oudtshoorn blink uit opwêreldverhoog met sewe medaljes

Bo: Sion Tome (rooi) in aksie. Foto’s verskaf. Onder: Lo-Anne en Zurilda op die podium vir hulle brons medalje in Team Kumite as deel van die SA Female Senior Kumite Team

Oudtshoorn se karategemeenskap het rede om trots te wees nadat vyf lede van die OGKK Klub Oudtshoorn onlangs aan die agtste World Goju Ryu-kampioenskappe in Pune, Indië, deelgeneem het as deel van die Suid-Afrikaanse Goju Ryu-span.

Die vyf karateka het uitstekend gevaar en altesaam sewe medaljes huis toe gebring.

Die internasionale toernooi het spanne van ongeveer 18 lande gelok, waaronder die Tsjeggiese Republiek, Duitsland, Nepal en Nieu-Seeland. Die deelnemende lande het sterk kompetisie gebied met talle hoogaangeskrewe karate-atlete wat hul vaardighede op die wêreldverhoog kom toets het.

Sion Tome het sterk vertoon in sy Kumite-afdeling en het die bronsmedalje met slegs een punt misgeloop. Hy het uiteindelik ’n uitstekende vierde plek behaal.

Elbie Tome en Esmé van den Heever het elk silwermedaljes verower as lede van die Suid-Afrikaanse Female 10–11 Team Kumite-span. Hulle prestasie is ’n besondere hoogtepunt en getuig van die jong atlete se talent en toewyding.

Sempai Zurilda Johnstone het ook haar staal gewys deur ’n silwermedalje in Kumite en ’n bronsmedalje in Kata in die Vroue- veteraanafdeling te verower.

Sensei Lo-Anne Oosthuizen het ’n bronsmedalje in die Senior Female Kumite-afdeling ingepalm. Sy en Zurilda het boonop saam deel gevorm van die Suid-Afrikaanse Senior Female Kumite-span wat ook ’n bronsmedalje verower het.

Die uitslae is ‘n bewys van die harde werk, dissipline, deursettingsvermoë en toewyding wat die karateka en hul afrigters deur die jaar aan die dag lê. Om op so ’n internasionale verhoog teen van die wêreld se beste atlete mee te ding en met medaljes terug te keer, is geen geringe prestasie nie.

Vir OGKK Klub Oudtshoorn is hierdie ’n besondere mylpaal. Dit is ook ’n trotse oomblik vir Oudtshoorn as dorp. Die feit dat plaaslike karateka hul merk op wêreldvlak kon maak, wys dat groot talent en potensiaal ook hier in die Klein Karoo gevind kan word. Baie geluk aan al vyf deelnemers met hierdie uitsonderlike prestasie. Oudtshoorn is voorwaar trots op julle! (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "OGKK Oudtshoorn blink uit opwêreldverhoog met sewe medaljes"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*