Albertus Kennedy (links) uitvoerende hoof van Krieket SWD, Baakier Abrahams (middel), hoofafrigter van SWD, en Corrie van Zyl, hoofbestuurder: Krieket SA, tydens die loting van die Afrika T20 Beker wat Dinsdag, 7 Augustus, in Johannesburg plaasgevind het.
Deur Schalk le Roux
DIE Oudtshoorn Sportgronde (Rec) is een van vier krieketvelde landwyd waar om die Afrika T20 Beker, aangebied deur Krieket Suid-Afrika, meegeding gaan word.
Altesame twintig spanne, waaronder vyf nasionale spanne van Afrikalande, neem aan die toernooi deel wat vanjaar die vierde keer plaasvind. Verlede jaar het net 16 spanne deelgeneem.
Die spanne word in vier groepe van vyf spanne elk opgedeel wat dan van 14 tot 16 September teen mekaar gaan meeding vir ’n plek in die halfeindronde.
Die wenner van elke groep dring deur na die halfeindronde op 23 September om te bepaal wie die volgende dag in die eindstryd gaan speel.
Dit hang van verskeie faktore af waar die halfeind- en eindronde gaan plaasvind.
Groep B, wat bestaan uit Suid-Westelike Distrikte, Zimbabwe, Gauteng, Noordelikes en Vrystaat, gaan hul uitdunwedstryde almal op die Rec speel.
Groep A, bestaande uit KwaZulu- Natal Binneland, Ghana, Oostelikes, Westelike Provinsie en KwaZulu-Natal Kusstrook, gaan hul uitdunwedstryde in Pietermaritzburg speel.
Groep C, bestaande uit Grens, Oostelike Provinsie, Kenia, Mpuma-langa en Namibië, gaan hul uitdunwedstryde in Oos-Londen speel.
Groep D, bestaande uit Boland, Noordwes, Noordkaap, Limpopo en Nigerië, gaan hul uitdunwedstryde in die Paarl speel.
Die toernooi bied aan die deelnemende spanne blootstelling om op ’n hoër vlak mee te ding.