Tien jaar nadat hierdie foto van jong Oudtshoorniete geneem is wat aan die SA Trompoppiekompetisie in 2008 in Oudtshoorn deelgeneem het, kom dié groot nasionale byeenkoms weer Oudtshoorn toe. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE South African Majorette and Cheerleading Association (SAMCA) se jaarlikse nasionale kampioenskap vind weer vanjaar in die wintervakansie op Oudtshoorn plaas – tien jaar nadat ’n baie suksesvolle kampioenskap in 2008 op dié dorp aangebied is.
Dié kampioenskap vind van 30 Junie tot 7 Julie op die Rec plaas.
Slegs die topspanne in die land kwalifiseer jaarliks vir deelname aan die “Nationals”, soos die kampioenskap allerweë bekend staan.
Volgens Johnny Bischoff, hoof van Laerskool Van Reede wat ook in die reëlingskomitee dien vir die Oudtshoorn-kampioenskap, word meer as 3 000 deelnemers op Oudtshoorn verwag.
Bischoff sê die Cheerleading-afdeling sal op Saterdag 30 Junie plaasvind met die Majorette-afdeling wat die Sondag afskop en oor die volgende dae sal plaasvind.
Dié jaarlikse kampioenskap is as gevolg van die verbluffende vernuf en vaardighede van die deelnemende spanne baie gewild onder toeskouers, en behoort ’n welkome hupstoot vir Oudtshoorn se toerismebedryf te gee, veral omdat die deelnemers se gesinne en ander belangstellendes ook dikwels die byeenkoms bywoon.