
Rodney Gelant (regs) met rugsakke wat hy by die Bridgton Sekondêre Skool afgelewer het. Van links by hom is mnr Grenwill Strydom, hoof, me Julia Booysen (opvoeder), Lenique Coetzee (hoofmeisie) en Jovandré Coetzee (hoofseun).
N INWONER van Oudtshoorn, Rodney Warren Gelant (42) is besig om glimlagte op baie gesigte te sit met ’n rugsakprojek wat hy geïnisieer het. Sy projek fokus op minderbevoorregte leerders wat rugsakke, skryfbehoeftes en toiletware nodig het.
Gelant het die projek begin toe hy ’n seun van Colridge Primêr ontmoet het wat nie ’n skooltas kon bekostig nie. Hy het uitgereik na vriende om te help, maar na gesprekke met verskeie onderwysers besef daar was meer leerders wat rugsakke en veral skryfbehoeftes nodig gehad het. “Ek het gesien daar is wel ’n need in die skole, en wou iets doen wat kon help en ’n verskil maak.”
Hy het via sosiale media uitgereik en uitste-kende reaksie ontvang. Hy het reeds 25 rugsakke ontvang. Hy het ook begin uitreik na ander skole. By Bridgton Sekondêre Skool het hy rugsakke en toiletware geskenk nadat hy met onderwysers en die leerderraad gesels het.
“Baie kinders se ouers wil nie goed ontvang van iemand wat hulle nie goed ken nie, hetsy as gevolg van trots of skaamheid. Die rol van die leerderraad is belangrik omdat hulle mense is na wie die jonger kinders kan opkyk en mee gemaklik voel. Hulle kan ’n positiewe voorbeeld stel.”
Hy sê hy vind dat baie leerders sukkel met persoonlike higiëne omdat daar nie altyd geld is vir toiletware nie.
Hy het die gemeenskap versoek om hom te steun met rugsakke, skryfbehoeftes of toiletware. Die grootste behoefte is egter rugsakke en potlode. “Party skole se reëls is nie te streng ten opsigte van hoe die skool tas moet lyk nie, so enige rugsak kan werk.”
Gelant sê hy wil met die projek kinders wat nie die basiese kan bekostig nie, uithelp en so ’n positiewe lig skyn in ’n wêreld wat al te maklik donker kan raak. “Hierdie is ’n projek wat reg deur die jaar gaan loop, en daar is nog ander projekte wat vir die toekoms beplan word.”
Hy bied ook ’n “adopt a school student”-program aan in samewerking met verskeie onderwysers, waar mense ’n leerder kan borg vir 2017. Die fondse word gebruik om skryfbehoeftes, rugsakke, skoolklere, en ander skoolkoste te dek.
• Kontak Gelant by 079 951 9799 vir skenkings van skoolrugsakke, potlode en penne, asook toiletware soos seep, tandeborsels en tandepasta, reukweermiddels en waslappies.