Deur Arno Greyling
AARTO is die nuutste eerstewêreldse verkeerswet wat deur ’n derdewê-reldse en oorwegend korrupte stelsel geïmplimenteer moet word – dalk al so vroeg as volgende jaar.
Aarto staan vir Administrative Adjudication of Road Traffic Offences.
Die wetsontwerp is in September deur die Nasionale Vergadering goedgekeur. Dit is gegrond op ’n puntestelsel vir verkeersoortredings.
Elke motorryer begin met ’n nul. Elke keer wat jy ’n verkeersreël oor-tree, word strafpunte aan jou toege-ken op grond van die erns van die oortreding wat begaan is. Elke oor-treding dra ’n bepaalde gewig in punte. As jy byvoorbeeld ’n padteken verontagsaam, word 2 punte toege-ken. As jy nie jou rybewys by jou het nie of dit het reeds verval, word 4 punte bygevoeg, en indien jy 120 km/h in ’n 60 km/h-sone ry, word jy met 6 punte gepenaliseer.
Sodra jy 13 punte het, word jou rybewys vir drie maande opgeskort. Daarna word ’n punt afgetrek vir elke drie maande wat jy geen oortreding begaan nie. Teoreties sal dit jou dus drie jaar en drie maande vat om weer terug te kom op nul. As jou lisensie drie maal opgeskort word, kan dit van jou weggeneem word.
Dit beteken nie dat boetes nou in onbruik verval nie. Aikona. Die Aarto-stelsel sal addisioneel wees tot verkeersboetes en is daarop gemik om gereelde oortreders hok te slaan.
Sodra die Aarto-wet in werking tree, sal alle verkeersoortredings deur die padverkeermisdryf-agentskap (Road Traffic Infringement Agency) hanteer word. Soos in die verlede sal jy ook kans kry om vertoë te rig. Indien jy betaal binne 32 dae van die datum waarop die boete uitgereik is, kry jy 50% afslag.
Alternatief kan jy aan die agentskap vertoë rig wat dit dan na ’n onafhanklike beampte sal verwys vir oorweging. Indien die vertoë nie slaag nie, sal jy in kennis gestel word en dan die volle boete moet betaal.
Wette en reëls is daar om ’n samelewing te orden. Maar ons bly in ’n land waar dit nou ’n kultuur geword het om wetteloos te lewe.
Die omkoop van amptenare vind openlik plaas.
My gevoel is dat die Aarto-wet net nog ’n instrument gaan raak om ons samelewing in verdere chaos te laat verval en nie noodwendig die doel gaan bereik waarvoor dit bestem is nie. Tyd sal leer…
Groetnis, tot ’n volgende keer.