
Deur Liesel le Roux
MET die vernietigende brand wat Desembermaand rondom die Raubenheimersdam gewoed het, kan Oudtshoorniete vanjaar dalk nog herhaaldelik drinkwaterprobleme ondervind.
As daar weer stortreën val, kan daar weer modder en roet in die Raubenheimerdam beland waar die drinkwater vandaan kom.
Ons wil inwoners aanmoedig om voorbereid te wees op waterprobleme eerder as om te afhanklik van ander te wees om hulle met water te help.
Die realiteit van die situasie tans is dat die veldbrande plantegroei om die dam tot in hul wortels vernietig het. Die gevolg hiervan is klaarblyklik dat daar geen natuurlike filtreerstelsel meer is waardeur reënwater na die dam vloei nie. Die gevolg is voorts dat die reënwater as gevolg van die gebrek aan plantegroei vinnig dam toe vloei, en modder saamneem dam toe.
En die gevolg hiervan in April was dat die damwater na harde reën bruin verkleur het en volgens watertoetse nie meer veilig was om te drink nie.
Hieroor kan inwoners kla en kerm – wat niks gaan oplos nie – of hulle kan ’n plan probeer maak en sorg dat hulle voorbereid is as so iets gebeur. Vra jouself af: Wat is jou plan as dit hard reën en die dorp se water nie geskik is om te drink nie?
Een van die voor die hand liggende oplossings is om – as jy dit kan bekostig – ’n waterfilter te koop wat jou drinkwater filtreer. Die ander oplossing is om gereed te wees om water vir drink te kook – met krag of ’n vuurtjie. ’n Bietjie beplanning kan ’n mens soms baie moeite – en kla – spaar.