Deur Marlene Malan
Die munisipaliteit van Prins Albert het verlede Woensdagaand op ’n dringende inwonersvergadering erken dat hy die waterkwessie die afgelope Desember – ’n spitstoerismetyd hier – swak bestuur het. Die burgemeester en waarnemende munisipale bestuurder het ook erken die dorp het in die algemeen ’n enorme gebrek aan tegniese kundigheid oor die kwessie, met net één amptenaar, ’n kontrakwerker, wat die kundigheid het om waterstelselfoute te herstel.
Die burgemeester, Goliat Lottering, en waarnemende munisipale bestuurder, Anneleen Vorster, het die vergadering laat verlede Maandagmiddag belê. Dis ook bygewoon deur die onder-burgemeester, Linda Jaquet, en enkele amptenare.
Hoewel net meer as 30 inwoners teenwoordig was, het hulle hul stemme dik gemaak en gesê die munisipaliteit het geen verskoning vir die bestuursgebrek oor ’n lewensbelangrike saak, en dit in ’n droogteramptyd, nie.
Dis ’n kwessie wat jaarliks in die Desembervakansie herhaal word, en elke jaar word ’n ander rede vir die tegniese probleme met die waterstelsel voorgehou, was die houding van die inwoners.
Lottering het die verrigtinge geopen deur te sê dat Prins Alberters saam met die munisipaliteit en raad “moet kyk na idees” om te keer dat die kritieke watersituasie van 29 Desember tot 1 Januarie nie weer gebeur nie. In dié tyd het die watervlakke só laag gedaal dat die munisipaliteit gevrees het die dorp sou op Nuwejaarsdag geen watertoevloei hê nie.
“Ons moet sáám verseker dat dit nie weer gebeur nie. Ek wil nie sê dit kan nóóit weer gebeur nie, maar ons moet alles in ons vermoë doen om dit te voorkom.” Hy het die inwoners uitgenooi om “brandende” waterkwessies op die tafel te plaas.
Die byeenkoms kom in ’n tyd dat Prins Alber-ters reeds geruime tyd vrae vra oor en krities staan teenoor die munisipaliteit se waterbestuurs-kundigheid. Die algemene gevoel is dat die dorp nie soseer ’n watertekort het nie, as dat dit swak bestuur word. Inwoners het aan Die Hoorn gesê dat dié onkunde dan na inwoners verplaas word in die vorm van ernstige waterbeperkings en die hef van droogtetariewe.
Vorster het in haar voorlegging gesê die jaareind-watervloei is belemmer deur ’n “ont-werpsfout” by een van die kleppe van ’n opgaardam. “Dit het veroorsaak dat die dorp water direk uit die pype onttrek het, en nie uit die damme nie, wat veroorsaak het dat lug in die pype beland het.”
Toe die munisipale tegniese personeel middel-Desember met vakansie gegaan het, “was alles oukei. Op 28 Desember het dinge drasties verkeerd geloop. Op 31 Desember was die situasie kritiek. Ons het gedink ons gaan geen water hê op 1 Ja-nuarie nie. Die watergebruik het die lewering ver oorskry.”
Op Oujaarsdag het ’n kontrakwerker, Jan Nel, teruggekeer van vakansie en die fout ontdek, volgens Vorster. Sy, asook Lottering, het erken Nel is die enigste munisipale amptenaar met die tegniese kundigheid om foute van hierdie aard te hanteer. “Hy het die fout binne 24 uur herstel. Op 1 Januarie het sake in Prins Albert weer vlot verloop.”
Dis algemene kennis dat Nel ook die enigste tegniese kundige op die gebied van die dorp se groter elektrisiteitskwessies is.
Verskeie inwoners het Lottering en Vorster daarop gewys dat dié “verskoning” ’n halwe waarheid is.
Volgens Gay van Hasselt, ’n boer, het die munisipaliteit einde verlede jaar aan haar erken dat net vier van die dorp se agt werkende boorgate op ’n bepaalde tydstip reg gefunksioneer het. Daar was ook onder meer probleme met druppende krane, pompe en vuil filters. “Prestasiebestuur van munisipale amptenare is nodig. Amptenare wat nie hul werk doen nie, moet gekonfronteer word.”