Deur Garnett Wicomb
HY was nie op die dag van die beweerde voorval op die plaas nie en ontken dat hy betrokke was by die aanval op die bejaarde winkeleienaar.
So sê Koos van der Horst (34) van Stolsvlakte wat na bewering saam met sy broer ’n bejaarde man aangerand en beroof het.
Van der Horst se verhoor het velede week met die getuienis van die winkeleienaar se vrou begin.
Hy word daarvan aangekla dat hy in Mei 2017 saam met sy broer, Ronaldo Olkers (20) die 78-jarige Frans Tredoux in sy winkel met ’n knopkierie geslaan, met ’n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof het. Hy staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Tredoux is intussen oorlede.
Van der Horst pleit onskuldig terwyl sy broer skuldig gepleit en reeds tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Van der Horst ontken dat hy die betrokke dag op die plaas was en sê dat die getuies ’n fout maak met sy identifisering.
Volgens hom was hy in 2003 laas op die plaas.
Die bejaarde Cornelia Tredoux (71) het getuig dat dit beslis Van der Horst en sy broer was wat sy die betrokke oggend deur haar kombuisvenster by die winkel gesien het.
Sy ken hulle baie goed omdat hulle op die plaas grootgeword het.
Sy het onder kruisverhoor deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger, adv Stephen Lourens, getuig dat sy nie kan onthou waarom die polisie ’n tweede verklaring van haar geneem het nie.
Sy het ook ontken dat sy vir die polisie gesê het dit was Koos Olckers en Ronnie van der Horst.
Volgens haar het die polisie die verklarings aan haar voorgelees en is van mening dat hulle ’n fout begaan het.
“Die ondersoekbeampte het my moontlik misverstaan of verkeerd geskryf. Ek het nie aandag daaraan geskenk nie,” het sy gesê.
Lourens het dit aan Tredoux gestel dat sy nie weet wie die twee persone is wat vir diens by die winkel geroep het nie en dus ’n fout maak met die identifisiering van die beskuldigde
Hannetjie Jansen, wat naby die winkel woon, het getuig dat sy die betrokke oggend die twee broers vinnig van die winkel se kant sien loop het. Haar man het met haar saamgestem dat dit hulle was.
“Ek het gedink hulle pa jaag hulle. Hulle het niks gedra nie,” het sy getuig.
Oor waarom sy ’n donkerbril dra, het Jansen onder kruisverhoor gesê dat sy ’n tyd gelede, voor die betrokke voorval, ’n oogoperasie ondergaan en ’n “plastiek”-lens gekry het waarmee sy baie goed kan sien.
Op ’n vraag oor waarom sy haar man gevra het wie dit was, het sy geantwoord dat sy net seker wou maak dit is die twee broers.
Sy was nie seker of hulle van die winkel gekom het nie, maar seker dat hulle “van daardie kant” gekom het.
Die saak is vir verdere getuienis deur streeklanddros Sylvia Mandla uitgestel. Van der Horst bly in aanhouding.