Valentynskonsert onder die sterre

Johan Liebenberg, SA se “eie” Neil Diamond.

’N VALENTYNSKONSERT onder die Klein Karoo-sterre keer op Saterdag 12 Februarie terug na die verhoog op Celebratio in ’n Valentynsproduksie getiteld Diamond for Valentine’s.

“Suid-Afrika se Neil Diamond”, Johan Liebenberg, het in 2013, ná jare se sing en optredes, besluit om ’n Neil Diamond-konsert aanmekaar te sit en vandag is dit die een konsert wat hy die meeste doen.

Hy vertel: “My liefde vir Neil Diamond het begin toe ek as twaalfjarige deur my ouers se plateversameling gegaan het. Ek soek toe ’n plaat wat darem lyk na iets wat deur ’n rock star gesing word. Toe kom ek af op Hot August Night se dubbelplaat. Van die eerste liedjie af en die gehoor wat cheer… dalk my eerste lewendige optrede wat ek al gehoor het, maar dit het my ore en my hart vasgevang. Shilo, Morning Side, Cracklin Rosie, Song Sung Blue… en so het dit aangegaan.

“Ná ’n paar keer se luister het ek op twee liedjies besluit wat my gunstelinge sou wees en vandag steeds is. I am I said was die eerste een, en toe kom ek op seker een van die mooiste liefdesliedjies ooit af: Play me. Die lirieke is so mooi: You are the sun, I am the moon, you are the words, I am the tune, play me. Ek dink nie dit kan enigsins mooier gestel word nie!”

Volgens Johan het Neil Diamond geen gelyke as dit kom by liedjieskryf nie. “Hy’t die vermoë om emosies en sentiment perfek vas te vang met sy lirieke.”

Raak hy ooit moeg vir Neil Diamond se musiek? “Nooit! Glo my, meeste van sy songs gee my nog net soveel genot soos toe ek dit die eerste keer gesing het,” sê hy.

Vir Diamond for Valentine’s word hy vergesel deur sy orkes bestaande uit Rob Stemmet, Kyle Petersen, Alan Lloyd en Andy Murray.

Neil Diamond, wat op 24 Januarie sy 81ste verjaarsdag gevier het, is een van die mees suksesvolle kunstenaars van alle tye, met meer as 130 miljoen plateverkope wȇreldwyd.

Volgens Johan kan die gehoor al die grootste treffers verwag asook ’n paar verrassings wat die hartsnare behoorlik sal tokkel.

Daar sal kos- en wynstalletjies wees. Hekke open om 18:00. Die vertoning begin om 20:00 en duur sowat twee ure, pouse ingesluit. Kaartjies (R200) is beskikbaar op die webwerf www.celebratio.co.za of kontant by PostNet Oudtshoorn in die Queen’s Mall. Vir meer inligting bel Gerhard Meyer by 082 802 7138.