Splinternuwe kleuterskool danksy Oudtshoorn Rotariërs

Bo: Dalia Wilck en die burgemeester tydens Nomonde se opening. Foto: Hannes Visser Onder: Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, en die president van Oudtshoorn Rotariërs, Hannelie Rix, open die skool. Foto: Keith Moodie Heelonder: Nomonde kleuterskool voor die opgradering deur Oudtshoorn Rotariërs. Foto: Hans van der Veen

Die Nomonde-kleuterskool in Bongolethu wat tot verlede jaar in ’n haglike toestand was, is verlede Vrydag as ’n splinternuwe skool aan die onderwysers en kleuters oorhandig. Die skool is die afgelope jaar teen ’n koste van meer as R1,1 miljoen opgegradeer. Dit was ’n projek van Oudtshoorn Rotariërs en die aanvanklike inisiatief van Dalia Wilck.

Die Hoorn was reeds verlede jaar by Nomonde tydens die Rotariërs se Kerspartytjie vir leerders. Op daardie stadium was die skool se nuwe klaskamers en badkamers reeds voltooi. Die res van die opgradering wat ’n afdak, nuwe kombuis, speelarea en nog ’n klaskamer insluit, is vanjaar voltooi. Die skool is ook van ’n nuwe veiligheids-heining voorsien en die terrein is ook van loopvlakke voorsien wat toeganklik is vir rolstoele.

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het die amptelike opening van die skool saam met die president van Oudtshoorn Rotariërs, Hannelie Rix, waargeneem.

Volgens Dalia Wilck het die Rotariërs reeds in 2023 ’n voorlegging om befondsing aan Alphen aan den Rijn, Oudtshoorn se tweelingstad in Nederland, voorberei. Die voorlegging het ’n gedetaileerde lys van alles wat gedoen moes word om die vervalle skool op te gradeer bevat. Die planne wat ingesluit is, is gratis deur die plaaslike argitek, Johan Smit, opgestel en hy het ook tydens die projek as projekbestuurder opgetree.

Die voorlegging is gunstig deur Alphen aan den Rijn ontvang en Koos van Arkel, wat reeds ’n jarelange verbintenis met Oudtshoorn het en by projekte betrokke is, het die skool ook by geleentheid besoek.

’n Bedrag van R1 miljoen is vir die projek bewillig. Alphen aan den Rijn het R650 000 bygedra en die Nederlandse organisasie, Wilde Ganzen, het R350 000 bygedra. Die oorblywende R100 000 is deur Oudtshoorn Rotariërs voorsien.

In die voorlegging van 15 bladsye wat aan Alphen aan den Rijn gestuur is, is dit duidelik dat die skooltjie dringende opgradering en toerusting benodig het.

Die lys het nie net bouwerk en opgradering aan die fasiliteite en veiligheidsheinings ingesluit nie, maar ook die voorsiening van noodsaaklike behoeftes soos kantoortoerusting, opvoedkundige materiaal, matrasse, veilige speelarea, kombuistoerusting, beligting en alarms om slegs enkeles te noem.

’n Gedetaileerde kosteberekeing was ook deel van die voorlegging wat presies aangedui het hoe elke sent van die R1 094 877,19 aangewend word.

Volgens Wilck is Nomonde die tweede kleuterskoolprojek wat die Rotariërs saam met Koos van Arkel aangepak en voltooi het.

“Ons het aan Koos van Arkel gewys dat ons projekte om minderbevoorregte kinders wat ons land se toekoms is, se omstandighede te verbeter, volhoubaar en haalbaar is,” het Wilck gesê.

Oudtshoorn Rotariërs het in 2015 ook gesorg vir ’n splinternuwe gebou vir die Pierewiet kleuterskool in Volmoed. Die sukses van die Rotariërs se projekte soos hierdie is te danke aan hulle deurlopende betrokkenheid by die skole. Alhoewel Pierewiet se geboue reeds in 2015 oorhandig is, is Rotariër-lede steeds op gereelde basis by die skool betrokke. Dit sal ook die geval by Nomonde wees.

Nomonde kleuterskool het tans 56 kleuters wat wissel van 2 tot 6 jaar en verrig ’n uiters noodsaaklike diens in die gemeenskap.

Met die opgradering van die skool het die kinders nou toegang tot veilige en goed toegeruste klaskamers, splinternuwe ablusie-geriewe, ’n moderne kombuis, ’n onderdak area vir samekomste en ontspanning asook ’n speelarea. Wat eens ’n vervalle en neerdrukkende omgewing was, is nou omskep in ’n splinternuwe kleuterskool. (HANNES VISSER)