Die legendariese sanger Neil Diamond se lewe en musiekloopbaan word op Saterdag 14 Februarie op Celebratio gevier wanneer Johan Liebenberg en sy orkes hulde bring aan dié sanger, een van die mees suksesvolle kunstenaars van alle tye.
Konsertgangers word genooi om reeds van 18:00 af saam met vriende en familie op die grasterras van Celebratio te kuier wanneer die kos- en drankstalletjies oopmaak. Dit beloof om ’n feestelike aand onder die sterre van die Klein Karoo te wees.
Die konsert, getiteld The Music of Neil Diamond, word al vir meer as tien jaar landwyd en in Namibië met groot sukses deur Johan opgevoer. Volgens Johan pas hy gereeld die inhoud aan omdat Neil Diamond soveel treffers gehad het dat dit onmoontlik sou wees om almal van hulle in een konsert te sing.
“Hy het ’n verstommende 38 top-tien-liedjies in sy loopbaan gehad,” vertel Johan. En hoewel hy ook van die minder bekende liedjies in die program insluit, sal daar volgens Johan altyd tyd wees vir die “gewildste van die gewildstes” soos “Sweet Caroline”, “Forever in Blue Jeans”, “Beautiful Noise”, “I am I Said”, “Play Me” en “Desiree”.
Die vertoning duur ongeveer twee ure, pouse ingesluit.
Kaartjies, teen R280 elk, is beskikbaar by www.celebratio.co.za of by 082 335 6059.
Al die sitplekke is op stoele en gereserveerd.
WEN WEN WEN!
Om Die Hoorn se verjaarsdag te vier gee Celebratio vyf dubbel-kaartjies weg na die konsert. Om in aanmerking te kom vir die prys, antwoord die volgende vraag en stuur jou antwoord via WhatsApp na 082 335 6059.
Vraag: Waar vind die konsert plaas?
Sluitingsdatum is Maandag 2 Februarie om 12:00. Wenners sal telefonies gekontak word.
