“DIT is uiters teleurstellend dat so min mans opgedaag het maar dit is nie die getalle wat saak maak nie, maar wel die beginsel.”
So het Oudtshoorn se burgemeester, Chris MacPherson, Saterdagoggend gesê in reaksie op die handjievol mans wat die optog teen geweld teen vroue en kinders bygewoon het.
Slegs ’n tiental mans het saam met die burgemeester en twee raadslede aan die optog vanaf die Bridgton sportgronde na die Bongolethu Polisie-stasie en terug, begelei deur die Lutherse brigade-orkes, deelgeneem.
’n Memorandum is by die polisiestasie namens die mans aan ’n groep vroue, onder wie raadslede en lede van die Bongolethu Buurtwag (Rose Valley en Black Joint) oorhandig. In die memorandum se die mans hulle is teen geweld teen vroue en respekteer hul reg om “nee” te sê.
Voorts lui die memorandum dat die mans hul verantwoordelikheid aanvaar as pa’s, ’n man of lewensmaat, om vroue in hul families en gemeenskappe te beskerm
Phillip Seroux van die Polisiehoogte Nasorgsentrum en sopkombuis wat die optog gelei en op verskeie straathoeke met inwoners en kinders gepraat het, het ook sy teleurstelling met die trae opkoms van mans uitgespreek.
“Waar is julle pa’s, ” het hy aan die kinders gevra.
Seroux het ’n beroep op die kinders en vroue gedoen om nie stil te bly wanneer hulle deur hul mans of saamleefmaats aangerand word nie.
“Ons is moeg vir mans wat in die vroeë oggend-ure by hul huise aankom en dan hul vroue molesteer en julle het nie nodig om daaroor stil te bly nie.”
Hy het vroue en kinders aangemoedig om met die polisie, hul kerkleiers, raadslede of die Gemeenskaps Polisiëringsforum hieroor te gaan praat.
• Saterdagaand se aansteek van die dorp se Kersliggies waarheen die burgemeester ook mans genooi het, is ook deur feitlik niemand bygewoon nie. (Deur Garnett Wicomb)
