Kerke, NWO’s se skuld afgeskryf

KERKE, pastorieë en geregistreerde nie-winsgewende organisasies (NWO’s) se skuld rakende munisipale tariewe – insluitend skuldinvordering wat deur prokureurs gedoen word – gaan afgeskryf word.

Die besluit is geneem by ’n spesiale raadsvergadering op 7 Oktober.

Vlancio Donson, uitvoerende burgemeester van die raad, het luidens ’n persverklaring gesê dat die Covid 19-pandemie alle dele van die samelewing – insluitend kerke en NWO’s – negatief beïnvloed het.

“Ons luister na die pleidooi en die oproepe van die kerke en NWO’s dat hul ondersteuningsbronne opgedroog het, aangesien gemeentes en donateurs nie hul organisasies kon ondersteun soos voor die pandemie nie.”

Volgens Donson beteken dit dat munisipale skuld van ongeveer R2,1 miljoen afgeskryf sal word.

Die raad het ook besluit om gratis voorafbetaalde krag- en watermeters by hierdie instansies te installeer.

“Indien die kerke, pastorieë en NWO’s weer versuim te betaal, sal ’n persentasie van tot 50% van die voorafbetaalde elektrisiteitsaankope op sodanige agterstallige rekening toegedeel word,” het Gevan Juthe, onderburgemeester, bygevoeg. (Deur Stefan Skapie Goosen)

1 Comment on "Kerke, NWO’s se skuld afgeskryf"

  1. se maar net | 10/25/2021 at 12:38 |

    Verbasend wat alles kan gebeur net voor ‘n verkiessing

Comments are closed.