Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Dysselsdorp wat teregstaan op vier klagtes van verkragting, is in die Oudtshoorn Streekhof ’n tweede keer as voorkeursaak en finaal vir pleit en verhoor uitgestel omdat verdedigingsgetuies nie vir konsultasie by sy regsverteenwoordiger opdaag nie.
Die 32-jarige beskuldigde wie se naam weerhou word omdat hy nog nie gepleit het nie, word daarvan aangekla dat hy op Kersdag 2017 te Booysenstraat, Dysselsdorp, ’n 21-jarige vrou verkrag het.
Nadat sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, sy probleem met die verdagte se getuies aan die hof voorgehou het, het streeklanddros Daniel Boks dit aan die man gestel dat die saak ’n volgende keer sal voortgaan, al is sy getuies nie by die hof nie.
Die landdros het dit ook pertinent gestel dat enige beskuldigde geregtig is op die spoedige afhandeling van sy saak, maar dat dit in hierdie geval deur die beskuldigde se eie toedoen is dat die verhoor nie ’n aanvang kan neem nie.
Die saak is daarna as voorkeursaak en finale uitstel verdaag vir twee dae se verhoor.
Die saak sal nou op 16 en 17 April 2019 aangehoor word.
Die verdagte is reeds vir langer as ’n jaar in aanhouding.