Gesuiwerde rioolwater tydelik nie beskikbaar

Rye bakkies staan en wag om tenks met gesuiwerde rioolwater te vul.

Herstelwerk word tans gedoen by die munisipale pompstasie wat gesuiwerde rioolwater gratis aan Oudtshoorniete voorsien.

Bakkies met watertenks daarop staan daagliks op Oudtshoorn tou om van hierdie gratis munisipale diens aan inwoners gebruik te maak sodat tuine die huidige droogte kan oorleef.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sal die herstelwerk na verwagting binnekort afgehandel wees.

Nadat tegniese probleme die afgelope week by die pompstasie ervaar is, was gesuiwerde rioolwater nog direk by die opgaardam by die gholfbaan beskikbaar, maar die verwagting was dat die water net tot gister sou hou as gevolg van die aanvraag. (Berig deur Liesel le Roux)