Verhogings vir 2017/18 goedgekeur

Raadslede se salarisse styg met 5% tot 6%

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn se raad het Dinsdag tydens ’n spesiale raadsvergadering eenparig ’n salaris verhoging van tussen 5% en 6% vir raadslede goedgekeur.

Die verhoging, wat terugwerkend is tot 1 Julie van jaar, moet egter nog eers deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, goedgekeur word. Volgens die munisipale bestuur der,
Allen Paulse, is Bredell reeds met verlof en sal dié verhoging waarskynlik eers vroeg in 2018 goedgekeur word.

Volgens die raadsbesluit word raadslede se sa larisse verhoog tot die boonste perk wat toegelaat word vir ’n Graad 3-munisipaliteit.

Die jaarlikse vergoeding van die raadslede styg soos volg: burgemeester van R758 012 tot R795 913; onder-burgemeester en speaker van R606 410 tot R636 731; lede van die Burgemeesters – komitee van R568 510 tot R596 936; en ander raadslede van R237 620 tot R251 877.

Raadslede se selfoontoelae styg van R1 900 per maand na R3 400 per maand.

Raadslede is self verantwoordelik vir die betaling van hul mediese fonds- en pensioenbydraes.

Daar is in die huidige munisipale begroting voorsiening gemaak vir dié salarisverhoging.

• Die boonste perke van salarisse, toelaes en voordele vir raadslede word vasgestel deur die Departement van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake en is op op 15 Desember in die Government Gazette geadverteer.