Bo: Verskeie raadslede, insluitend burgemeester Colan Sylvester (rooi hemp) en onderburgemeester Noluthando Mwati (onder) het saam met munisipale werkers die pad skoongemaak. Regs sit Sylvester, raadslid Ewa Fortuin en Mwati hand by. Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het gisteroggend met Camp Roadhouse en Hannes Tereblanche, ’n plaasboer van Stolsvlakte, saamgespan om die pad tussen Oudtshoorn en De Rust skoon te maak.
Vyf werkers van Camp Roadhouse, 20 van Stolsvlakte asook ’n groot aantal werkers van die Oudtshoorn Munisipalieit – asook raadslede – het saamgewerk om die pad skoon te maak as deel van die Operasie Skoonmaak-projek wat op 27 November deur die munisipaliteit en die Oudtshoorn Ekonomiese Beleggingsforum geloods is.
’n Groep munisipale werkers het al om 04:30 begin om die area by Johnson’s Bricks skoon te maak.
“Hierdie is deel van ’n aaneenlopende projek,” het Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, gesê.
“Die pad is die gesig van die dorp. Ons as dorp het ’n verantwoordelikheid om dit skoon te hou.”
Volgens Sylvester sal die munisipaliteit op 22 Desember ’n opvolg-skoonmaaksessie doen.