Dit sê opname van AfriForum oor naamsverandering

Deur Liesel le Roux
INWONERS van Oudtshoorn het oorweldigend negatief gereageer op ’n meningsopname van AfriForum oor die voorgestelde naamsverandering van Voortrekkerweg op Oudtshoorn na Nelson Mandela Boulevard.

Volgens Heinrich Bosman, penningmeester van AfriForum Oudtshoorn, wou hulle met die opname die gevoel van inwoners oor die kwessie toets en het hulle ’n meningsopname gedoen op die Facebookbladsy Oudtshoorniete staan saam.

Die Oudtshoorn-raad het vroeër vanjaar ’n voorstel aanvaar om Voortrekkerweg se naam te verander na Nelson Mandela Boulevard. Die besluit is egter onderhewig aan ’n openbare deelnameproses wat in Mei plaasgevind het.

Die uitslag van die deelnameproses word nog afgewag.

AfriForum het mense gevra om net ja of nee te antwoord op die vraag of hulle die naamsverandering steun.

Volgens Bosman het 815 mense nee geantwoord en net 13 mense ja.

• Die openbare deelnameproses van die Oudtshoorn Munisipaliteit waarin mense skriftelik kommentaar kon lewer oor die voorgestelde naamsverandering het op 18 Mei gesluit.

Die Hoorn het Dinsdag ’n navraag aan die munisipaliteit gestuur oor die uitslag van die openbare deelnameproses.