Vier hoewe goedkoper as vier wiele?

Elkasun Shakeel trek sy neus op vir die nuutste brandstofpryse.

DIS ’n algemene sêding dat wanneer die petrolprys opgaan en daar weer duur vir elke dierbare liter brandstof betaal word, mens daaraan dink om ’n perd aan te skaf soos in die ou dae.

Nou ja, dit klink na die goedkoper opsie as om met jou motor in die dorp op en af te ry, maar kom ons kyk na die praktiese koste van wat ’n perd jou nou eintlik sal kos, sou jy jou vier bande wou inruil vir hoewe.

Eerstens die perd self – perde kan van gratis tot 100 000de rande kos. Dit hang natuurlik af watter ras perd jy wil aanskaf. Boerperde se temperamente is oor die algemeen meer gemoedelik, so dit behoort ’n beter keuse as ’n vuurwarm Arabier-perd te wees.

Gratis perde sal mense in die perde- wêreld vir jou vertel dat daar beslis iets fout is, of die perd het nog nooit ’n mens of saal op sy rug gehad nie. Dus moet daar opleidingskoste bygesit word. Dit neem sowat 3 maande om ’n perd ordentlik te leer en daarvoor gaan jy so R3 000 per maand betaal. Dit is nou sonder kos, of vervoer om die perd daar te kry.

’n Ordentlike perd gaan jou so tussen R5 000 en R10 000 uit die sak jaag (dis nou vir net daagliks in die dorp ry, sonder ’n uitsonderlike-geteelde ryperd).

Dan sal die perd nie noodwendig by die huis aangehou kan word nie, so daardie koste moet ook in ag geneem word. Dit kan van R150 en selfs R3 000 per maand kos, afhangende van waar die perd staan (weereens geen kos ingesluit nie).

Perde vreet gewoonlik ’n mengsel van ruvoer en pille. Die gemiddelde perd vreet sowat 2 kg pille ’n dag, teen R400 vir 50 kg gemiddelde koste, en 10% van sy liggaamsgewig ruvoer. Dit kan lusern, teff of hawer wees. Beskikbaar in klein baaltjies (25 kg), ronde bale (250 kg) of “Big Packs” (500 kg).

Ruvoer kos tussen R3 tot R6 per kg, afhangend van wat jy hulle voer. ’n Perd kan tussen 300 kg tot ’n ton weeg. Gemiddeld sal voer dan so R1 500 per maand per perd kos, en hou in gedagte dat klein baaltjies baie duurder uitwerk as groter hoeveelhede.

Dan is daar hoewe – wat elke 4 weke deur ’n hoefsmit gedoen moet word – met skoene aan sal dit so R800 kos vir al 4 hoewe. As jy van plan is om op die harde grond en teerpaaie te ry is skoene beslis ’n moet om hulle voete te beskerm.

Dan is daar inentings vir griep en AHS (African Horse Sickness), en net soos met enige ander dier sal daar onvoorsiene siektes, of situasies wees waar die dier seerkry en ’n veearts uitgeroep moet word.
En laaste moet daar ’n saal en toom aangekoop word. Dit hang ook af van wat jy koop maar kan van R3 000 tot R60 000 kos. Maak net seker dit pas jou perd, anders gaan jou perd nie elke dag kan ry as die saal seermaak nie.

Ek dink op die stadium na al die somme gemaak word, sal dit steeds goedkoper wees met die brandstofverhoging van 37 sent vir petrol en 71 en 72 sent per liter onderskeidelik vir diesel wat Dinsdagaand reeds in werking getree het om maar liefs eerder met jou motor te ry. (Deur Angelique Erasmus)