Hoë petrolprys só hokgeslaan

Wessel Steffens (80) se selfgeprakseerde “Cabin Scooter” wat baie lig op brandstof is.
Foto’s: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
IS dit ’n oulike klein karretjie, of is dit nou ’n bromponie? Nee, nie een van die twee nie. Dis ’n bromkarretjie met drie wiele!

Volgens oom Wessel Steffens (80), eienaar van die voertuigie wat hy self gebou en “Cabin Scooter” gedoop het, is dit beslis ’n aandagtrekker wat baie kommentaar van die publiek uitlok.

Oom Wessel vertel die Cabin Scooter is as’t ware ’n samestelling van twee ou Goggomobil-motortjies se bakwerke en ’n Big Boy-bromponie met ’n 150 cc- enjin. Hy het dit drie jaar gelede gebou nadat hy die twee Goggomobil’e in 1972 onderskeidelik vir R25,00 en R1.00 gekoop het.

Hy het onder meer die bakwerk, passasiersitplek, voorwiele, ruitveërs en handrem van die Goggomobil’e behou, en die Big Boy se enjin, hidrouliese remme en rigtingaanwysers aan die agterkant van die bakwerk ingebou.

En siedaar – ’n Cabin Scooter met ’n kajuit wat ’n mens teen wind en weer beskerm.

Oom Wessel vertel hoewel hy ’n klerk van beroep was, het hy van hy 15 jaar oud was baie belanggestel in en kennis opgedoen van motorfietse en die meganika en instandhouding daarvan.

Hy sê aangesien onderdele vir die Goggomobil baie skaars is, het hy die twee opgesny vir die bou van die Cabin Scooter.

Volgens oom Wessel kry hy gereeld aanbie-dinge vir die Cabin Scooter. Hy wil dit egter nie verkoop nie en hou dit vir sy dogter as erfstuk.

Nog ’n rede waarom hy nie die Cabin Scooter sal verkoop nie, is die voertuigie se baie lae pe-trolverbruik in ’n tyd wat petrol al duurder raak.

Hy sê sy “Cabin Scooter” is ideaal om onder meer vinnige inkopies mee te gaan doen.

“Iets wat my verbaas, is met hoeveel gemak die Cabin Scooter, wat 320 kg weeg met my 105 kg daarby, selfs die steilste bult uitklim.

Die Cabin Scooter is drie jaar gelede getoets en gelisensieer by Oudtshoorn se verkeersafdeling.