Die Toyota Rush wat middel vandeesmaand op Oudtshoorn verwag word. Motorjoernaliste het al na dié klein sportnutsvoertuig as die klein Fortuner verwys vanweë sy voorkoms.
’N BLITSOPNAME onder plaaslike motorhandelaars het aangetoon dat ’n verskeidheid nuwe voer-tuie binnekort bekendgestel en hier op Oudtshoorn beskikbaar sal wees.
Die nuwe Toyota Rush, ’n klein sportnutsvoertuig, word volgende week bekendgestel en behoort teen die middel van Julie op Oudtshoorn te wees, sê Johan du Toit, verkoopsbestuurder van Klein Karoo Toyota.
Die Rush word aangedryf deur ’n 1.5 liter-petrolenjin wat 77 kW krag en 137 Nm wringkrag lewer. Dit is beskikbaar in twee modelle, een met ’n vyfgang-handrat en die ander met outomatiese viergangratkas. Die Rush is agterwielaangedrewe. Na wat verneem word is die handrat se prys R302600 en die outomaties s’n R316600.
Du Toit sê Toyota gaan die nuwe Auris in die derde kwartaal van vanjaar bekendstel. Volgens hom gaan dié motor beslis die koppe laat draai.
Die Nissan Micra se nuutste model is so pas bekendgestel en spog met ’n splinternuut ont-werpte, moderne voorkoms. Dié oulike motortjie is by Oudtshoorn Nissan beskikbaar.
Nissan se nuwe NP300 Rogue 4X4-bakkie is in Mei by Nampo bekendgestel en het groot aftrek gekry. Die Rogue word deur ’n 2.5 liter dieselturbo-enjin aangedryf wat 98 kW krag en 304 Nm wringkrag lewer. Dié enjin is een van Nissan se gewildstes vanweë sy betroubaarheid, ligte brandstofverbruik en omdat dit maklik is om te diens.
Die nuwe Renault Cleo RS, ’n sportmodel, word in Augustus bekendgestel en die Renault Duster in September.
Ford verwag voor die einde vanjaar ook nuwe EcoSport-, Fiesta- en Figo-modelle.
Hyundai se Sante Fé, Creta en Tucson gaan na verwagting voor die einde van vanjaar almal “facelifts” kry.
Die nuwe Isuzu mu-X, ’n sportnutsvoertuig, is so pas bekendgestel.