Briewe van lesers: 19 Mei 2022

Toestand van middedorp grief

Iets wat my al ’n geruime tyd grief, is die toestand van ons eens netjiese en veilige middedorp.

Daar is blykbaar geen orde of polisiesigbaarheid nie. Wat baie mense ook ervaar, is dat die selfaangestelde motorwagte ’n bedreiging is en mekaar takel sodra jy ’n fooitjie gee.

Een het my kar so hard geslaan dat ek gedink het hy breek my ruit!

Ek sluit aan by mnr Poem Mooney se brief in verlede week se uitgawe van Die Hoorn: Opvoeding en maniere bestaan feitlik nie. Die nuwe stadsraad wat uiteindelik verkies is, het báie werk om te doen en moet die politieke speletjies los.

Ons wag om te sien of hulle werklik ons mooi dorp se belange op die hart dra.
H Coetzee, Oudtshoorn

Voorreg van ouerskap bring verantwoordelikheid!

Baie dankie aan Poem Mooney vir sy eerlike en gewaardeerde skrywe in verband met die sedelike verval op ons dorp Oudtshoorn.

Miskien maar ’n skrale troos, maar dit gaan wêreldwyd so. Daar is nie meer die ouerlike voorbeeld wat nagevolg kan word nie. Die ma van die huis “moet” werk. Sê wie? We must keep up with the Jones’s.

Tradisioneel was die moeder die op­voe­der van die kinders en omdat sy voltyds tuis was, was sy beskikbaar vir dié doel en ook geestelik toegerus. Die pa was die hoof van die huis en wanneer hy saans tuisgekom het, is probleme op­ge­los en die nodige stappe gedoen om sake wat verkeerd geloop het, reg te stel. Nou het kinders egter meer regte as ouers en die staat staan vier­kantig agter die regte van kinders. Dit is hoekom dit gaan soos dit gaan en nooit sal verbeter nie.

Nog ’n skrale troos is die enkelouer-gesinne… Daar is nie ’n pa wat ’n goeie/regte voorbeeld stel en toesien dat orde en goeie maniere gehandhaaf word nie.

Onder goeie maniere kan ook gemeld word dat daar al hoe meer in die openbaar gespuug, geurineer en gedrink word. Tot watter vlak moet ons nog verder daal? Dit geld ongelukkig die hele spektrum van ons samelewing.

Ouers moet besef dat die voorreg van ouerskap ook verantwoordelikheid meebring en dit kan nie aan die onderwys, kerk of die staat oorgelaat word nie.

Sterkte aan elke ouerpaar en dankie aan elkeen wat nog hul plig met verantwoordelikheid nakom.
Sterkte!
Pieter, Oudtshoorn

Waardering vir dié wat netjies maak

Soos baie jare tevore was ek en my man Sondag in die begraafplaas om sy ma se graf te besoek.

Voorheen was dit baie gevaarlik en onnet, maar toe was dit rustig en tot ons verbasing sien ons dat die munisipaliteit besig is om bosse uit te haal en netjies te maak.

Daarom skryf ek dié brief om vir almal wat daar werk, dankie te sê. Ons weet dis nie ’n lekker werk nie, maar ons waardeer dit baie.

Daar is so baie onversorgde grafte waaraan niemand ooit aandag gee nie. Ek wil vra dat die mense wat wel gaan besoek, ook maak soos wat ek doen en dit is om ’n graf of twee ook netjies te maak; al sit jy net ’n mooi klip op en trek die bosse uit.

Dink net hoe ’n plesier sal dit dan wees om daar rond te stap.
– Mona Brittnell, Oudtshoorn
(Behalwe vir die span werkers wat die Oudts-hoorn Munisipaliteit aangestel het om die begraafplaas skoon te maak, het ’n groep vrywilligers van FASO – Forum for Anti-corruption and Service Delivery in Oudtshoorn – ook die afgelope maande skoonmaakwerk daar gedoen. – Redakteur)