
Sally Arnold Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
BLOMME is misterieuse, energieke natuurskeppings. Hulle is simbole van betekenis – romantiek, geluk, hartseer en verlies. Hulle is die draers van emosionele kontak tussen mense. Sonder blomme sal lewe op die aarde onvolhoubaar wees.
Dis die boodskap van ’n uitstalling deur die bekende Prins Albertse kunstenaar, Sally Arnold, wat vroeg in Februarie in die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley open. Die titel van die versameling is Disturbed Beauty, met die subtitel Floral Archaeology. Cobus van Bosch, nog ’n bekende kunstenaar van die dorp, het ook vroeër sy werke met die Anglo-Boereoorlog as tema daar uitgestal.
“My werke is ’n poging om mense bewus te maak van die dieper geheimenisse en krag van blomme,” vertel Arnold. “Blomme is buitengewone natuurskeppings. Oor die eeue heen het hul funksionaliteit en waarde verander. Eers het mense dit bloot as reproduktiewe organe beskou, maar algaande het dit simbole geword van skoonheid en betekenis. Ons gebruik blomme om ons emosies uit te druk.”
Die mens het egter die natuur en sy skoonheid deur sy leefwyse beskadig, sê sy. “Ons is op die kantelpunt van ons bestaan. Die afstand tussen oorvloed en vernietiging is ’n mespunt breed. As ons die natuur nog meer beskadig, gaan ons die hele wêreld, alle vorme van lewe, alle skoonheid beskadig. In die 21ste eeu, glo ek, neem blomme ideologies stelling in oor die bewaring of vernietiging van die natuur.”
Haar blomskilderye beskou sy nie net as kunswerke nie, “maar ook as ’n dokumentering van hul bestaan op aarde. Dis mý manier om dié skoonheid en betekenis en geskiedenis te bewaar. As jy kyk hoe ons die wêreld behandel, sal ons dalk in die toekoms nie meer blomme oorhê nie. Disturbed Beauty sal dalk nog as verwysingsmateriaal dien vir toekomstige aardbewoners wat oorblyfsels soek van hul voorouers, homo sapiens, en dié se gebruike en estetiese voorkeure.”
Arnold sê sy is nie ’n plakkaatswaaier vir bewaring of ’n groener leefstyl nie. “Ek is nie iemand wat graag politieke stellings maak nie. Blomskilderye is my manier om die mens aan die wonder van die natuur en sy verpligting teenoor dié lewensvorm te herinner. My benadering lyk dalk op die oog af speels, maar ek is doodernstig. Die skoonheid in die wêreld word bedreig. Sal daar nog menslike lewe oor wees op planeet aarde in 3018?”
Sedert die dae toe sy op ’n plaas op Cradock grootgeword het, was sy nog altyd baie na aan die natuur, vertel sy.
“Ek was mal oor die oop ruimtes. Blomme het my nog altyd gefassineer. Die natuur en sy blommerykdom was my TV. Bye op blomme was vir my soos ’n aksiefliek. Dit het nog altyd vir my ontvlugting van mense gebied.”
Arnold se ateljee in Prins Albert is geleë in Nieuwestraat 15A, Prins Albert. Besoek ook www.sallyarnold.com