Oud-skoolhoof oorlede

Jan Philander (65). Foto verskaf

Jan Philander (65). Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
’N OUD-SKOOLHOOF van PJ Badenhorst Primêr op Dysselsdorp is Maandag oorlede.
Jan Philander (65), ook bekend as Oom Jan, was vir 35 jaar lank ’n onderwyser en 16 jaar ’n skoolhoof. Hy het in 2013 afgetree.

Hy was ook 30 jaar lank die voorsitter van die ACVV Dysseldorp en was betrokke by pastorale bediening.

Philander word deur sy kollegas beskryf as iemand wat altyd moeite vir ander gedoen het.

“Ek het hom regtig eers leer ken toe ek in 1999 my prakties by PJ Badenhorst Primêr gedoen het,” sê Annelize Human, een van sy kollegas. “Hy was altyd daar vir die gemeenskap. Hy het regtig ’n hart van goud gehad, was ’n dierbare mens, maar het ook sterk standpunt ingeneem.”

Sy seun, Lincoln Philander (33), sê sy pa was ’n baie goeie mens. “Hy was altyd baie nederig en het ’n goeie leidende rol gespeel.”

Desmond Salmans, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, beskryf Philander as ’n mense-mens wat omgegee het vir ander. “Hy het ook ’n passie vir kinders gehad. Al was hy die skoolhoof, het hy tyd gemaak om pouses krieket met die hulle te speel.”

Philander word oorleef deur sy vrou, Yvonne (59), drie kinders en twee kleinkinders.

Die diens sal Saterdag (16 Desember) om 11:00 by die huis van Philander se gesin in Jonesstraat 86, Oudtshoorn plaasvind en die begrafnis sal om 12:00 by die AGS Kerk in Bridgton plaasvind.