Studente van die Suid-Kaap Kollege tydens Dinsdag se vreedsame protesaksie op Oudtshoorn. Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Ilze-Mari Gründling
TALLE studente van die Suid-Kaap Kollege het Dinsdag deelgeneem aan ’n vreedsame protesaksie oor verskeie griewe wat strek van kos tot beurse.
Een van die studente, Mndumane Ongeziwema, het verduidelik dat hy ontevrede is met die kollege se dienslewering. “Ek het ’n beurs van NSFAS (National Student Financial Aid Scheme) ontvang, maar die kollege wil dit nie erken nie. Hier is ook geen vervoer vir studente wat ver moet loop nie. As ons net ’n paar minute laat is, sê die dosente dat ons nie toegelaat word in die klas nie of ons mag nie eksamen skryf nie.”
Hoof van die EFF se Student Command op Oudtshoorn, Kanyisa Nako, sê dat daar is nie genoeg verblyf vir die studente is nie. “As jy ’n plek in die koshuis kry, is jy gelukkig. Hier is nie plek in die dorp nie. Baie studente kry ook nie hul leningsgeld nie, en kan nie vir verblyf betaal nie. Ons sukkel met Suid-Kaap Kollege op Oudtshoorn. Hier is geen dienslewering vir studente nie.”
Verskeie studente het gekla dat die kos in die koshuis te min is en dat dosente nie altyd beskikbaar is om klas te gee nie. ’n Navraag is aan die kollege gestuur.