Goeie motorbande is ’n móét

OM ’n motor se bande te vervang, kan jou ’n paar duisend rand uit die sak jaag. ’n Goeie stel bande is egter een van die belangrikste veiligheidseienskappe van enige voertuig; dus is dit ’n noodsaaklike uitgawe en nie ’n luukse nie.

Hou die volgende in gedagte wanneer jy nuwe bande moet koop:
• ’n Mens kry verskillende bande vir verskillende rytoestande. Die klimaat speel ook ’n rol.

• ’n Motorband met ’n groot voetspoor (die deel wat kontak maak met die pad) sal byvoorbeeld goed klou in droë toestande.

• Moenie bandsoorte meng nie. Dit is volgens die AA gevaarlik om bande van verskillende groottes en/of konstruksie op dieselfde motor-as aan te bring.

• Probeer om jou bande in stelle van vier te vervang. Indien dit nie moontlik is nie, probeer dit in pare vervang.

Dit maak nie saak hoe goed ’n band gemaak is nie. Hoe lank dit gaan hou en hoe goed dit presteer, hang af van hoe goed die motor-eienaar daarna kyk.

Bandrotasie en roetinebandondersoeke sal help dat bande eweredig afloop.
Instandhoudingswenke:
• Wiele wat reg gebalanseer is, sal ’n gladde rit verseker en ook die leeftyd van die bande verleng.

• Maak seker jou bande is reg opgepomp. As dit te styf opgepomp is, kan dit verminderde klou veroorsaak. Bande wat te sag opgepomp is, sal brandstofgebruik laat toeneem.

• Wanneer bande nie reg opgepomp is nie, sal die bande voortydig slyt.

• Bande se druk moet een keer per maand na­gegaan word.

• Kyk ook na die loopvlak van jou bande. Volgens die AA moet bande loopvlakslytasie­aanwysers in die loop­vlak­patroon hê om te wys wanneer die loop­vlakdiepte minder as 1,6 mm is. In die meeste gevalle behoort die band vervang te word as die band se loopvlak gelyk met hierdie aanwysers is.

• Moenie van die noodwiel vergeet nie! Die noodwiel moet ook opgepomp wees en reg wees om te gebruik in ’n noodgeval.

• Sogenaamde “run flat”-bande is iets om te oorweeg. Met dié bande kan jy tussen 50 en 200 km ry, teen 80 kilometer per uur, nadat jy ’n pap wiel gekry het.

Sodoende hoef jy nie langs die pad te stop om ’n band te ruil nie.