Oudtshoorn stap saam in pienk en blou

Pienk en blou uitrustings het Vrydag 30 Oktober kleur aan Oudtshoorn se strate gegee toe inwoners saam met FAMSA Karoo en Die Hoorn vir kankerbewusmaking gaan stap het.

Dit was die eerste Pienk en Blou Stap en hoewel daar min tyd was om alles te reël, het die gemeenskap die inisiatief goed ondersteun. FAMSA Karoo en Die Hoorn waardeer die ondersteuning opreg.

FAMSA Karoo beplan om volgende jaar nog groter te gaan. Die stappers het by Wilck Spar se parkeerterrein bymekaargekom vir die fondsinsameling ten bate van FAMSA Karoo. Tutu’s en kleurvolle hare het tot die oggend se vrolike gees bygedra.

Die stap het bewusmaking van kankers wat mans en vroue raak, aangemoedig. Dit het ook die oorgang van Oktober se fokus op borskanker na November se aandag aan mansgesondheid gemerk.

Voor die stap kon deelnemers hul hare pienk of blou laat spuit en met die FAMSA Karoo-span oor borsondersoeke gesels. Gratis PSA-vingerpriktoetse was ook beskikbaar.

Die volle inskrywingsbedrag van R50 per persoon gaan aan FAMSA Karoo om die organisasie se werk te ondersteun. Danksy die ruim ondersteuning van besighede en ander ondersteuners het talle stappers met ’n geskenk of prys huis toe gegaan.

FAMSA Karoo het elke deelnemer vir hul ondersteuning bedank, asook die Oudtshoorn Verkeersdepartement wat gehelp het om die stappers veilig te hou en die oggend vlot te laat verloop.

Die organisasie het ook sy span en vrywilligers bedank vir hul hulp.

FAMSA Karoo en Die Hoorn bedank verder die besighede en organisasies wat die inisiatief ondersteun het: Wilck Spar, Paul’s Homemade Ice Cream, Elvis Brew, New Horizons Begrafnisdienste, Piets Crazy Pets, Klein Karoo Event Medics, Hungry Lion, Boncourage en Salon Petite. Dankie ook aan almal wat anonieme donasies gemaak het.

Be the first to comment on "Oudtshoorn stap saam in pienk en blou"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*