DIE sekretaris van die ANC se Zoar-tak, Eugene Ludicks (29), verskyn op 14 Desember in die Ladismith Landdroshof op ’n aanklag van diefstal.
Die beweerde diefstal het in 2017 plaasgevind. Ludicks was toe ’n werknemer by die Kannaland munisipaliteit.
Hy word daarvan aangekla dat hy R1 400 van ’n lid van die publiek gesteel het.
Die persoon het na bewering ’n tjek aan hom oorhandig vir die goedkeuring van bouplanne.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is Ludicks gedagvaar om op 14 Desember in die hof te verskyn.
Ian Avontuur, woordvoerder van Kannaland se burgemeester, Magdalena Barry, het in ’n mediaverklaring dié stap verwelkom.
“Dit stuur ’n duidelike boodskap uit dat ons nie diefstal en korrupsie gaan duld by die munisipaliteit nie,”het hy gesê.
Volgens Avontuur is Ludicks uit diens ontslaan nadat hy tydens ’n interne tugverhoor skuldig bevind is aan wanadministrasie.
Johanalie Frieslaar-Andrew, voorsitter van die ANC in Kannaland. het op haar beurt ’n beroep op Ludicks gedoen om te bedank uit sy ANC-leierskapsposisie. Sy sê die aangeleentheid sal na die ANC se integriteitskomitee verwys word.