Uys nuwe voorsitter van Wesbank Tennisklub

Louis Uys, nuwe voorsitter van die Wesbank Tennisklub. Foto: Garnett Wicomb

LOUIS UYS is tydens die algemene jaarvergadering van die Wesbank Tennisklub onbestrede tot voorsitter verkies.

Uys neem oor by John Marais wat hom nie weer beskikbaar gestel het nie. Die res van die bestuur vir 2022/23 is Louis Pienaar, vise-voorsitter; Theunis Kruger, tesourier; Danie Steyl, sekretaris; Dirk Potgieter; Hanlé Kok; Pieter van der Walt; Kobus Diepraam en JK Koch.

Goeie nuus vir klublede is dat die jaar- en speelfooie nie verhoog is nie.

Die uittredende voorsitter, Marais, sê in sy jaarverslag dat die klub ten spyte van die Covid-19-pandemie ’n goeie jaar agter die rug het.

Die klub is egter steeds op die uitkyk vir donateurs om te help met die opgradering van die klub se bane wat tans nie in ’n goeie toestand is nie en gevolglik daartoe lei dat toernooie nie hier aangebied kan word nie. Voornemende donateurs en persone wat by die klub wil aansluit kan Uys by 082 835 8555 of Steyl, by 078 469 3727 skakel.

Besoekers is ook welkom om van die klub se bane gebruik te maak teen R30 per speler per dag. (Deur Garnett Wicomb)