Rotariër Gholfdag ’n groot sukses

Theo Swart en André Plaatjies met die pryse wat hulle Saterdag ontvang het as die wenners van die Oudtshoorn Rotary Gholfdag by die Oudtshoorn Gholfbaan. Agter tussen hulle is Lezelma Pretorius, presi-dent van die klub.

TWEE jong gholfspelers, Theo Swart en André Plaatjies, het Saterdag die Oudtshoorn Rotariër Gholfdag by die Oudts­hoorn Gholfklub met ’n telling van 57 gewen en in die proses onder meer ’n stewige pak vleis ontvang. Die formaat van die dag was ’n vier-bal-beter-bal “scramble drive”.

Die opbrengs van die gholfdag, wat baie suksesvol was met 88 spelers wat deelgeneem het, word deur die Rotariërs ten bate van die gemeenskap van Oudtshoorn aangewend.

Daar was ’n prys van R115 000 op die spel vir ’n kolhou (hole-in-one) op die 12de putjie waarvan die speler R55 000 sou ontvang en die Rotariërklub R60 000. Die persoon wat die naaste aan dié prys gekom het, is William Malgas wat ’n kolhou ge-slaan het, maar ongelukkig vir hom op die agtste putjie!

Ná die prysuitdeling is ’n veiling gehou ten bate van die Oudtshoorn Rotariërs wat deur Abri Ferreira, ’n nuwe lid van die Oudtshoorn Rotariër-klub, behartig is. ’n Stewige inkomste ten bare van liefdadigheid is met die veiling verdien.

Onder die items wat opgeveil is en buitengewoon goeie pryse behaal het, is netjiese gholfsakke asook groot geraamde en getekende foto’s van gholfsterre.

Lezelma Pretorius, president van Oudtshoorn Rotariërklub, het al die borge bedank vir hul bydraes tot die gholfdag en ook ’n spesiale woord van dank gerig aan André van Greunen en Philip Goets wat aan die hoof van die reël van die gholfdag gestaan het.

• Die span van Selwyn Amsterdam en Steve Lourens was tweede met ’n telling van 53, met Adrian Cupido en EP Titus in derde-plek.