Harlequins maak stem dik in SWD Premierliga

Deur Higgo Jacobs
Harlequins se A-span het die naweek sy stem dik gemaak in die SWD Premierkrieketliga deur albei sy wedstryde te wen.

Harlequins het Saterdag die sterk span van Pioneers met 67 lopies geklop en Sondag ’n bonuspuntoorwinning behaal deur Western Hope met 136 lopies te verslaan.

In die wedstryd teen Pioneers het Harlequins eerste gekolf en 195 lo-pies geslaan. Pioneers is daarna vir slegs 128 lopies uitgehaal.

Sondag het Harlequins weer eerste gekolf en ’n puik 284 lopies in die toegelate 50 boulbeurte gemoker.

Daarna is al Western Hope se kolwers uitgehaal vir slegs 148 lopies om aan Harlequins ’n oorwinning met 136 lopies te verseker.

• In nog ’n Premierligawedstryd het Union Stars in ’n naelbytstryd vir Pacaltsdorp United met 1 paaltjie geklop.
Pacaltsdorp het 196/9 aangeteken waarna Stars 198 lopies bereik het met nog een paaltjie staande.