Coetzee verkies tot tweede termyn as Eden Swem-president

Lluwellyn Coetzee. (Foto verskaf)

LLUWELLYN COETZEE, ook bekend as Oudts-hoorn Munisipaliteit se bestuurder van strategiese ­dienste, is die afgelope week vir die tweede keer verkies tot president van Eden Swem.

Coetzee, wat onbestrede tot sy tweede termyn verkies is, is tans die president van Wes-Kaap Swem.

“Dit is vir my ’n groot eer en ek sien geweldig uit daarna om ’n bydrae te maak tot die ontwikkeling van die sport,” het hy Dinsdag gesê.

Volgens Coetzee was die afgelope swemseisoen een gekenmerk deur geweldige uitdagings, juis weens die impak van die Covid-19-pandemie op nie net swem nie, maar alle sportsoorte. “Hierdie tydperk het vereis dat ons innoverend moes dink en elke dag moes aanpas om wel swem-aktiwiteite te kon beoefen, ondanks al die uitdagings. Dit was wel moontlik onder hierdie omstandighede vir ons om te oefen en toernooie aan te bied, al was dit met streng Covid-19-riglyne, en gelukkig was daar geen positiewe gevalle nie,” het hy gesê.

Volgens Coetzee het die Eden-streek verskeie hoogtepunte in die vorige seisoen bereik, “waarop ons verskriklik trots is”.
’n Voorbeeld hiervan is 17-jarige Aimee Canny van Knysna wat Eden vir die eerste keer in sy geskiedenis by die Olimpiese Spele later vanjaar gaan verteenwoordig.

Canny is volgens Coetzee opgeneem in die SA swem-aflosspan vir vroue.

“Dit is my wens om hierdie sport te ontwikkel tot op skoolvlak en die uithoeke van ons landelike gebiede en townships sodra die impak van die pandemie genoeg afgeneem het.”

Coetzee het gesê ’n groot taak lê vir hom voor, maar hy meen dat die streek, provinsie en land die potensiaal het om op alle vlakke mee te ding.

“Dis ook my missie dat elke kind in ons streek moet kan swem om waterveiligheid te bevorder. Ek wil die klubs in ons streek bedank vir die vertroue in my gestel om die organisasie te dien vir die volgende 2 jaar.” (Deur Stefan Skapie Goosen)